MOSSELBAAI NUUS - Wat het Kurt Darren, Adam, Jo Black en Charlize Berg in gemeen?
Hierdie kunstenaars van formaat sal op 3 Februarie van die groot trekpleisters by die 2018 Diasfees wees.
Hoewel Kurt Darren, oftewel Kurt Johan van Heerden, sekerlik geen bekendstelling nodig het nie, sal ou treffers soos Hemel Op Tafelberg, Kaptein, Loslappie - Ek Wil Huistoe Gaan of Kaalvoet Sokkie sekerlik die voete kielie en die skares tot laat laat kuier.
Sy gewilde vertonings hou ondersteuners jare reeds vasgenael sedert sy loopbaan in 1995 reeds afgeskop het.
Sedertdien het sy wye verskeidenheid treffers in beide Afrikaans en Engels hom groot plaaslike en internasionale aansien besorg.
Hy bly egter 'n nederige, plat-op-die-aarde gesinsman, eggenoot vir Dunay Nortjé en pa van twee jong spruite, Kyrah en Kade.
Die titelsnit van sy jongste album, Jy's 'n Legend, wat vandeesmaand uitgereik is, het hy dan ook aan sy pa en held, wyle Koot van Heerden opgedra.
Jo Black
Dagboek nou reeds die eerste naweek in Februarie om verseker nie die gratis vertonings by die volgende Diasfees mis te loop nie.
Die man met die ruie baard en besondere stem wat vanjaar Suid-Afrikaanse gehore gaande het, Jo Black, sal onder meer die verhoog met Kurt deel.
Jo Engelbrecht, alias Jo Black, die lang man van Pretoria Noord het tot onlangs sy eie konstruksiemaatskappy bedryf voordat hy sy nering as musiekmaker begin uitleef het.
Met snitte soos Skepe, Die vrou wat ek lief het, Een klein klippie en As ek skreeu het hy die Afrikaanse musiekbedryf in 2017 op die kop gekeer.
Die 20-jarige Refentse Morake se deurbraak in die musiekbedryf is te danke aan 'n ouerige vrou wat hom op straat hoor sing het.
Cecilia Marchionna, of Tannie Kleintjie soos sy bekend geraak het, se video van hierdie straatoptrede voor sy ouerhuis in Unitapark, Vereeniging, het oornag 'n internetsensasie geword, en 'n musiekkontrak het na 'n verdere straatoptrede in April 2015 in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn gevolg.
Sedertdien het hy twee albums, My Hart Bly in 'n Taal in 2016 en Deur My Venster in 2017 vrygestel.
Een van die snitte waarmee Refentse veral roem verwerf het, is die Valiant Swart-liedjie, Sonvanger.
Karen (Zoid) Greef, Francois (Van Coke) Badenhorst en Jedd Kossew se liedjie; Toe Vind Ek Jou, is ook een van Refentse se meer bekende snitte.
Hugo Ludik, Reynardt Hugo and Kyle Grant is die trio beter bekend as Adam.
Hul albums 'Vir Jou Gemaak' en 'Goud' het onlangs goudstatus bereik.
Maak gerus reg vir die luistergenot van hul treffers soos Smoorverlief, Liefde Soldaat en Engele Sing, om maar enkele te noem.
Hierbenewens sal die gewilde plaaslike kunstenaars oudergewoonte weer die gehoor ook op hul voete hê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'