VERKIESINGS NUUS - Kort voor die 2019 nasionale en provinsiale verkiesing op 8 Mei het die voorsitter van die Demokratiese Alliansie se Oos- en Karoostreek, Jaco Londt die hoop uitgespreek dat heelwat meer van die plaaslike politici tot die parlementêre strukture van die provinsie en die nasionale parlement verkies sou word.
Deels is hierdie droom bewaarheid en sal die Tuinroete-distriksmunisipaliteit binnekort 'n nuwe speaker moet verkies.
Eleanor Bouw-Spies, wat onlangs maar tot dié posisie verkies is, sal haar binnekort op die banke van die Nasionale Vergadering bevind. Sy sal in die opposisiebanke van die DA die Suid-Kaap se belange bevorder. 'n Suid-Kapenaar wat die streek in Kaapstad sal verteenwoordig, is Londt, wat terugkeer na die Nasionale Raad van Provinsies.
Die aangewese Premier van die Wes-Kaap, Alan Winde se wortels lê boonop diep in die Suid-Kaap. Hy is oorspronklik van Knysna en het aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy bande met dié area is steeds baie sterk. Ook Donald Grant (Bitou) en Tertius Simmers (George, hoewel aanvanklik van Bitou), sal terugkeer na Kaapstad. Ockie Terblanche keer ook as LP terug na die Nasionale Raad van Provinsies.
Die ANC Suid-Kaapse sal onder meer deur Lulama Mvimbi in die provinsiale wetgewer verteenwoordig word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'