Update Video
VERKIESINGSNUUS - Besoeke aan vyf stemlokale op Woensdag, 8 Mei is gedenkwaardig gemaak deur oues van dae wat effe krom en met 'n skuifelstappie, steeds met trots hulle stemreg gaan uitoefen het.
By die stemlokaal in die JCC-woongebied het Neels van Niekerk met die hulp van sorgsame vriende kom stem, kruk in die hand. Kiesbeamptes het hom met deernis teen die trappies uit gehelp en toe hy in skik om die gebou gesukkel kom, was hy tog te trots om vir 'n foto saam met 'n raadslid te poseer.
"Ek is krom en oud, maar stem sal ek stem."
'n Piepklein Katy Jacobs, wat volgens kennisse 72 is het ook haar kruisie in JCC kom trek. "Ek stem nog elke keer sedert ons mag van '94 af."
By die D'Almeida-gemeenskapsaal het Dinah Cairncross en Derrick Trim op dieselfde tyd by die stembus aangekom. Derrick is vinnig om te antwoord as jy sy ouderdom vra dat hy "84 en 'n half is". "Ek is op Guy Fawkes gebore.
"Ek stem omdat dit my reg is en omdat ek 'n aandeel wil hê in wat in die land gebeur." Dinah het nie in die stemlokaal agtergebly sodat die Mossel Bay Advertiser het ouderdom kon bevestig nie, maar kennisse se sy is naby of in die negentig. Nog 'n bejaarde wat in D'Almeida gestem het, wat verkies om anoniem te bly het buite die stemlokaal gesê: "Om te dink dat 'n kruisie so baie dinge kan verander."
Die 95-jarige Colly Saayman het in Heiderand gestem waar kiesers 'n rukkie in 'n ry moes wag. Sy kon egter dadelik met haar aankoms die stemlokaal betree. Hoeveel keer het sy gestem het, kon sy nie dadelik onthou nie, maar het wel onomwonde gesê dat sy nog nooit 'n verkiesing gemis het nie.
"Waar daar 'n stemmery was, daar was ek ook."
Kyk 'n video hieronder:
Katy Jacobs (regs voor) het in die JCC-woongebied gestem.
OVK-beamptes Charlene Chipie en Gareth Raubenheimer saam met Derrick Trim en Dinah Cairncross. Agter staan Derrick se vrou, Mona.
Colly Saayman (95) en haar dogter Joan Carstens (75) het vir die eerste keer saam hulle kruisies getrek. Hulle het in Heiderand gestem. Joan het haar regterelmboog gebreek en moes gou leer "kruisies trek met die linkerhand".
Lees 'n verwante artikel hier: Drie generasies stem saam
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'