MOSSELBAAI NUUS - Letterlik 'n bakkievrag onwettige kragkabels is op Dinsdag, 25 Julie van wonings in die KwaNonqaba-omgewing verwyder.
Munisipale amptenare moes, hoewel die kragtoevoer afgesluit was, hul lewens waag om tussen die kraaineste van onwettige aansluitings kabels te verwyder deur met lere teen die hoë pale op te klim.
Lede van die KwaNonqaba-polisie en die openbare orde polisie-eenheid van George het vanaf 09:00 die munisipale personeel vergesel om die onwettige kragaansluitings te verwyder in onder meer Dwyili-, Mzola-, Sixaxeni-, Sijaji- en Queenstrate in KwaNonqaba.
Die polisie het 'n teenwoordigheid gehandhaaf om die munisipale personeel teen enige oproerigheid te beskerm. Die dag het egter sonder noemenswaardige voorvalle verloop.
Die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren, doen weer eens 'n beroep op die gemeenskap om gehoor te gee aan versoeke om nie elektrisiteit deur onwettige aansluitings te bekom nie.
"Daar is in die afgelope paar jaar vier mense weens onwettige kragkabels wat tussen wonings gelê is, oorlede. Niemand kan vergeet van Luthando Hashibi (3) en Sukhe Milisi (4), wat op Donderdag, 14 Julie 2016 in Elangeni en Simthandile Mthwesi, wat op Donderdag 5 Januarie in die nabygeleë Endlovini dood is nadat hulle na bewering toegang tot onbeskermde onwettige kragkabels gehad het.
Letterlik bakkievragte vol kabels wat gebruik is vir onwettige kragaansluitings in die KwaNonqaba-omgewing is Dinsdag verwyder in 'n gesamentlike optrede van die Mosselbaai-munisipaliteit, die KwaNonqaba-polisie en die polisie se openbare orde-eenheid van George.
Hierbenewens het 'n volwasse vrou vroeër, ook in KwaNonqaba, in soortgelyke omstandighede omgekom. Die munisipaliteit kan nie toelaat dat enige individu se lewe in gevaar gestel word deur onwettige kragaansluitings nie. Inwoners kan verwag dat die munisipaliteit meer gereeld onwettige kragaansluitings sal verwyder."
"Die munisipaliteit maak ruim voorsiening vir deernis- en armoedesubsidies wat ook geld ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening.
Inwoners word aangemoedig om aansoek te doen vir wettige kragaansluitings en vir die gepaste subsidies," sê mnr Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'