MOSSELBAAI SAKE NUUS - Dis nie aldag dat ‘n mens so ‘n besonderse mylpaal soos die 20ste bestaansjaar van ‘n onderneming op Lentedag vier nie.
Vir Munro Manor was 1 September egter allerweë ‘n besonderse dag.
By hierdie gastehuis met ‘n baie warm hart, vind besoekers waarvan menige, veral internasionale gaste, keer op keer terugkeer, inderdaad ‘n tuiste weg van die huis.
Volgens die gastehuis eienaar, Marika Thomatos, stroom die gelukwensinge met die gastehuis se besonderse mylpaal al heel week in en is haar huis oorlaai met blomme van gaste wat tydens hulle verblyf in Mosselbaai, Georgstraat 8, hulle tydelike adres gemaak het.
Munro Manor het ‘n praguitsig oor Munro’s Hoek, waar ‘n ene meneer Munroe is 1831 ‘n holte vir die voet gevind het nadat hy ‘n konsessie ontvang het om robbe uit te dun. As woning, het hy ‘n pragtige grasdakhuisie opgerig en ‘n buitegebou wat later ‘n tavern was, een van die eerste twee kuierplekke in die vroeë Mosselbaaise nedersetting.
Ten tye van die bouwerk om die eiendom, ‘n ou woonhuis in ‘n gastehuis te omskep, het Marika al werkende gestaan en wonder wat om die plek te noem. “Toe ek so uitkyk oor die baai, toe dink ek Munro Manor – dís die naam.” Met groot opgewondenheid het sy haar ma, haar regterhand vir baie jare en grootste ondersteuner, gebel wat ewe opgetrek met die naam was.
Twintig jaar later, staan Munro Manor steeds trots sy plek vol met ‘n rits toekennings, asook internasionale erkenning agter dié naam. Die lys bekendes wat gereëlde gesigte by Munro Manor is, is meer as net ‘n bietjie indrukwekkend en sluit selfs die baanbreker hartchirurg, dr Chris Barnard in.
Marika meen dat haar personeel die sleutel tot haar sukses is. Van die personeellede, is al sedert die begindae in haar diens en het hulle die pad na sukses, toegewyd saam met haar gestap.
Sy lag as sy die dae onthou toe Munro Manor die eerste plaaslike gastehuis was wat telefone en televisiestelle met MNet in die kamers gehad het. Deur die jare het sy en haar personeel daarvoor gesorg dat die hoë standaarde wat hulle hul gaste bied, deurlopend dieselfde bly. Vandag, bied elkeen van haar kamers gaste alles wat hulle in ‘n hotel sou verwag.
Granisha Strydom, Cynthia Joko, Alina Molisi, Margo Matthysen, Eugene Bantom en (agter, links) Lelsey Smith Marika Thomatos (regs).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'