Advertorial
MOSSELBAAI NUUS - Steve Basson, wat die leisels as algemene bestuurder by die Mosselbaai Gholfklub oorgeneem het, is 'n raakvatter.
Hy ken sy industrie deur en deur. Nie net danksy sy jare in die bestuur van gholfbane in Namibië, by name in Windhoek nie, maar as 'n beroepsgholfer wat jarelank die gholfbaan as sy kantoor gehad het.
Basson is 'n boorling van die Vrystaat, maar voltooi matriek in die Wes-Kaap. Hy speel 14 jaar lank beroepsgholf wat hom dikwels tot 43 weke per jaar op die baan sou sien.
Hierna, raak hy vir twee jaar buite Windhoek betrokke by die uitlê, beplanning en bestuur van 'n spoggholflandgoed. Hy skuif nader aan die stad, en bestuur vir 'n verdere agt jaar 'n gholfklub op Windhoek.
Die Basson-gesin het in Januarie 2022 op Mosselbaai hervestig.
"Ons voel reeds baie tuis."
Sy vrou is in die onderwys en die egpaar het twee jong seuns.
Basson is opgewonde oor sy reis wat voorlê met Mosselbaai Gholfklub.
"Die klub is gevestig en het die voete. Ons kry besoek van 48 000 gholfers en is gelys vir die derde meeste rondes gholf gespeel in Suid-Afrika," wys hy uit. "Jy bereik nie sulke rekords as jy nie iets reg doen nie."
Basson wil voortbou hierop. As 'n beroepsgholfer, het hy die beste bane ter wêreld beleef. Hy is vasbeslote om uitsonderlike ervarings na Mosselbaai te bring waar amateur-gholfers daartoe toegang kan hê.
"Dit is amateur-gholfers wat die industrie aan die lewe hou, daarom verdien hulle die beste wat ons hier kan bied."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'