Die personeel van die Mossel Bay Advertiser het trots hul vreugde met hul onlangse toekenning deur die Caxton groep bekend gemaak: die koerant is as naaswenner bekroon in die nasionale Caxton kompetisie vir verkoopte koerante in die kategorie onder 8 000. Wat hierdie prestasie onderskei, is dat dit die heel eerste keer is wat die koerant vir die kompetisie ingeskryf het, en dat koerante wat gereelde wenners was, uitgestof is.
Die Mossel Bay Advertiser het die Besigheidskamer byeenkoms geborg en is as Goue Lidmaatskap lede verwelkom. Die koerant het daarom 'n spreekbeurt by hierdie vergadering gekry en die geleentheid benut om die waarde van gemeenskapskoerante aan die vernaamste sakelui op Mosselbaai toe te lig.
Le Roux se gesprek is voorafgegaan deur 'n video-insetsel vervaardig deur Cornelle Carstens, van ingenome adverteerders wat elk hul eie ervaring van 'n suksesvolle verbintenis met die Mossel Bay Advertiser, en die koerant se suster publikasie, die Mossel Bay Home Ads News, kortliks verwoord het. Wat hieruit sprekend was, is die waarde-vir-geld ondervinding wat adverteerders by die Advertiser kry.
Dit was interessant om daarop te let dat die Mossel Bay Advertiser waarskynlik een van die oudste, indien nie die oudste nie, besigheid in Mosselbaai is - dit het trouens in 1870 tot stand gekom en is reeds sedert 1980 in besit van die Moolman-familie. Dit vorm deel van die Group Editors Groep wat altesaam agt koerante in die groter Suid-Kaap en Klein Karoo streek besit en versprei.
Tog is gemeenskapskoerante soos die Advertiser, volgens die internasionale ekonoom, Warren Buffet, onlosmaaklik deel van die gemeenskap en veral waardevol in gemeenskappe waar 'n sterk gemeenskapsbewussyn steeds geld. Trouens, Buffet beskryf die rol van 'n gemeenkskapskoerant as "...there is no more important institution than the local paper". Daarom het hierdie ekonoom onlangs in 66 gemeenskapskoerante in die VSA belê.
Om tred te hou met die veranderende omgewing van Internet en slimfone, is die koerant se webblad en Facebook-teenwoordigheid ook toegelig. Le Roux het ook die navorsing wat die tot standkoming van die Mossel Bay Home Ads News voorafgegaan het, die nasionale ROOTS Survey, toegelig, en hul gemeenskapsuitreikaksie, die Oliver Twist projek, se impak in die gemeenskap met 'n sprekende voorbeeld beklemtoon.
Die rol en bydrae van 'n groep vrywilliger fotograwe, die Mossel Bay Photographers, is ook beklemtoon. Hierdie fotograwe se betrokkenheid maak van die koerant se gereelde 'In die Kol' fotokompetisie heelwat meer pret omdat Mosselbaaiers nooit sal weet waar of wanneer hulle met 'n kopie van die koerant in hul hand gefotografeer kan word nie. Wen hulle die 'In die Kol' kompetisie, is R50 op die spel.
Een van die hoogtepunte was verskeie pryse wat met 'n gelukstrekking uitgedeel is. Vier gesinne het elk 'n gratis besoek aan Jukani gewen, terwyl drie sakeleiers elk met voorkeur-advertensiespasie in die Mossel Bay Advertiser kan spog.
Die Mossel Bay Advertiser, trotse ondersteuners van die Mosselbaai Besigheidskamer se Koop Plaaslik Veldtog, het hul borge, veral die Garden Route Casino, Jukani, Group Editors, RNA Verspreiders en die Besigheidskamer bedank vir die suksesvolle geleentheid.
Le Roux se aanbieding is afgesluit met die woorde van een van Mosselbaai se bekendste sakemanne, mnr Albert Wiffen, wat by geleentheid aan die joernalis, Cornelle Carstens, gesê het: "The Mossel Bay Advertiser may not be The New York Times, but to the people of Mossel Bay, it is the equivalent of The New York Times!"

Tryana Potgieter van die Garden Route Casino (links) en Cornelle Carstens, 'n Mossel Bay Advertiser joernalis. Carstens het die video-insetsel van ingenome adverteerders se ervaringe van 'n suksesvolle verbintenis met die Mossel Bay Advertiser en die die Mossel Bay Home Ads News, vervaardig.