Advertorial
MOSSELBAAI SAKE NUUS - Solidariteit Helpende Hand is reeds in 1949 gestig en spreek die behoeftes in ’n bepaalde nismark aan deur te help om armoede te verlig en persone deur opleiding te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik.
Verskeie projekte vind onder die Helpende Hand plaas. Persone bo 60 word deur die Ouma-en-Oupa fonds ondersteun en bederf en in elke dorp word ’n tuis genoot aangestel waar daar in samewerking met die gemeenskap, die behoeftes van bejaardes geïdentifiseer en dan ondersteun word.
’n Voltydse maatskaplike werkster sien om na die maatskaplike behoeftes binne die gemeenskap.
Skoolgaande kinders word finansieel bygestaan en sedert 2007 is reeds meer as 27000 tassies aan behoeftige graad 1 leerders geskenk sodat behoeftige kinders op gelyke voet met hul maats die eerste skooldag kan tegemoetgaan. Voedingsprojekte by kleuterskole word ook deur Helpende Hand gesubsidieer.
Verskeie opleidingsgeleenthede bestaan binne die beweging waaronder ’n baie interessante Toep-fabriek. Persone word hier opgelei om hulle eie toeps te skryf wat hulle dan in staat stel om ’n onderneming te begin.
By die skole ondersteuningsentrum word onderwysers met die jongste onderrigmetodes opgelei en word idees uitgeruil om hulle te bemagtig om ’n beter opvoeding aan leerders te verskaf. Hierdie Ondersteuningsentrum het juis met die Wolkskool vorendag gekom nadat daar besef is dat opvoedkundige video’s ’n baie groot rol kan speel.
Steekproewe het bewys dat leerders wat van die video’s gebruik maak, 15% beter presteer het as hulle klasmaats. Wolkskool (www.wolkskool.co.za) is ’n aanlyn platform waar Helpende Hand ondersteuners 24 uur toegang tot opvoedkundige video’s het.
’n Aanlynwinkel verskaf ook spesiale werkkaarte en vraestelle met memorandums en ander hulpmiddels teen bekostigbare pryse. Hierdie diens is gratis vir ondersteuners of daar kan aangesluit word teen slegs R50 per maand.
Daar is 158 Helpende Hand takke waarvan een in Mosselbaai is. Die tak in Mosselbaai word hanteer deur Kathy Lindeque en die tak is geleë in Crookstraat.
Helpende Hand werk nou saam met ander gemeenskapsorganisasies soos die ACVV, plaaslike kerke en skole. Waar nodig word gemeenskap sentrums opgerig om saam met alle rolspelers die behoeftes te identifiseer en aan te spreek. Die Mosselbaai tak is ook ’n amptelike skenkings kantoor waar klerasie, linne, huisware en meubels geskenk kan word wat dan na behoeftebepaling, aan persone geskenk of verkoop word.
Die huidige behoefte by die Mosselbaai kantoor is veral linne en huisware. Die hooffokus in Mosselbaai is kinders en bejaardes en tans word daar finansiële ondersteuning aan plaaslike leerders gebied.
Befondsing hiervoor vind plaas deur die Mosselbaai Gemeenskap Beurs fonds waarvan fondse deur die verkoop van skenkings vanuit die winkel aangevul word asook deur die groot harte van plaaslike donateurs. Die Mosselbaai kantoor wil graag die donateurs bedank vir hul bydraes en persone wat sou wou betrokke raak kan ook die onderstaande nommers skakel.
Helpende Hand help mense om hulself te help deur ondersteuning te bied, moed in te praat en waar nodig saam skouer aan die wiel te sit.
Kontak Adele Wright (Kliëntediens-beampte Suid-Kaap)by 072 970 1112 of Kathy Lindeque by die Mosselbaai skenkings kantoor 072 299 4524.
Helpende Hand Mosselbaai-span.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'