MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai is nie verniet die land se top dorp as dit by bestuur en samewerking kom nie. 'n Span wat saamwerk kry dinge gedoen," sê dr Willie Cilliers, voorsitter van die AHI.
Cilliers was 'n gas by die Mosselbaai Besigheidskamer se algemene jaarvergadering wat verlede week by die ATKV Tarentaalsaal op Hartenbos gehou is.
Volgens Cilliers, wat op George woon, is die besonderse goeie samewerking tussen die Besigheidskamer en die Mosselbaai-munisipaliteit 'n voorbeeld vir ander dorpe. "Hier vergader julle gereeld saam en vra mekaar se insette met situasies en projekte, terwyl ons in George (en meeste ander plekke in die land) maande en selfs jare moet wag voordat daar enige reaksie op ons versoeke verkry word," het hy bygevoeg.
Jaarverslag
In sy jaarverslag het die voorsitter dr Paul Kruger, melding gemaak van die goeie samewerking tussen die besigheidskamer se bestuur en die plaaslike owerheid. Een van die nuutjies, wat die afgelope jaar ingestel is, is die gereelde ontmoeting tussen die bestuur en die burgemeesterskomitee waar sake van dringende belang wat die dorp raak, bespreek word. "Ons kry die geleetheid om sake wat vir die dorp se sakelui asook vir die gemeenskap van belang is, op die agenda te plaas en dan antwoorde direk uit die perd se bek te kry," het Kruger gesê en bygevoeg dat die gesindheid waarin dit geskied, baie besonders is.
"Vroeër het ons vir mekaar geskree, nou hanteer ons dit op 'n professionele vlak en word resultate bereik."
Twee raadslede, Anton Dellemijn en Marie de Klerk asook die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die vergadering bygewoon. Giliomee het 'n voorbeeld van goeie samewerking tussen die raad, publiek en sakesektor genoem wat vir hom 'n sprekende voorbeeld van spanwerk is. Toe 'n vernietigende brand verlede jaar die huise en inwoners in Hartenbosheuwels bedreig het, het almal ingespring om dit onder beheer te bring. "Toe die brandweer daar opdaag, toe staan privaat kontrakteurs reeds met hul watertenkwaens gereed vir ons om te begin spuit. Hulle het gesorg dat ons genoeg water tot ons beskikking het – gratis," het hy bygevoeg.
Positiewe groei
Nog veranderings wat die afgelope jaar 'n wesenlike impak op die besigheidskamer se groei gehad het, is die opening van 'n kantoor in die anneksgebou van die toerismekantoor in Markstraat asook die aanstelling van 'n amptenaar, René Malan, wat halfdag werk.
Die ledetal van die besigheidskamer het ook 'n groei getoon en die maandelikse netwerke word besonders goed ondersteun. Die gala-aand, waar die dorp se sakelui erkenning kry, het by die Diaz Strand Hotel plaasgevind en word allerweë beskou as die nuwe bakermat vir spoggeleenthede en verskeie ander besigheidskamers het reeds navraag gedoen om kers op te steek.
Die jaarlikse gholfdag was weer eens 'n groot sukses en vanjaar is van die geld aangewend om 'n luukse hospitaalbed vir die aftree-oord in Hartenbos aan te koop.
Hoewel die klem die afgelope jaar nie op konferensies, waarvoor die Besigheidskamer reeds bekend geword het, geplaas is nie, word daar hierdie jaar weer 'n konferensie oor suksesvolle aftrede beplan asook 'n uitgebreide jong entrepreneur-program by skole.
Die komitee wat die afgelope jaar die besigheidskamer tot 'n nuwe vlak geneem het, is eenparig weer aangewys en een nuwe lid is bygevoeg.
Johan Lochner van PSG is die enigste nuwe toevoeging.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'