Advertorial Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - By Da Gamastraat 36, Da Nova is iets nuuts aan die gebeur wat 'n nuwe era van groei vir een van Mosselbaai se gevestigde gemeentes aankondig.
By hierdie adres vestig Doxa Deo hulle eerste kampus in die Tuinroete, met nóg een wat eersdaags op George in volle swang sal wees.
Gerhard van Rensburg, predikant op Mosselbaai vir die afgelope 30 jaar, is die leraar verbonde aan Doxa Deo Mosselbaai.
Hy glo dat die inskakeling by Doxa Deo deel is van die voormalige Vida Nova se volgende stap in die gemeente se deelname aan God se plan vir die nuutmaking van Sy skepping.
Jaco Schutte, 'n jarelange vriend en ook reeds etlike jare betrokke by Doxa Deo in Pretoria, het in 2021 in Mosselbaai hervestig. Hy is die leier van die Doxa Deo Tuinroete-span, wat beide kampusse sal bedien.
Die volgende stap
Toe Vida Nova-gemeente enkele jare gelede sy naam bekendgemaak het, was die grondteks daarvoor Psalm 104:30.
"Vida Nova beteken 'lewe nuut' in Portugees. Dié woorde kom voor in hierdie teksvers en versinnebeeld wat ons as gemeente glo," verduidelik Gerhard.
Die koms van die Covid-19-pandemie het nie net uitsonderlike uitdagings nie, maar ook besonderse geleenthede aan godsdienstige instellings gebied.
"Doxa Deo het voorheen kerke in stede geplant, maar die gedagte het ontstaan om na streke, waarvan die Tuinroete die eerste is, uit te brei," sê Jaco.
Fotogalery: Nuwe kampus vir Doxa Deo
Toe Alan Platt, stigter en visionêre leier van Doxa Deo, wat tans in die VSA woon vir die eerste keer ooit einde 2020 die Tuinroete as vakansiebestemming kies, kruis sy pad met dié van Gerhard van Rensburg.
Video: Doxa Deo Mosselbaai - nuwe begin by 'n bekende adres
Gesprekvoering oor die vestiging van 'n Doxa Deo-kampus op Mosselbaai het in alle erns begin.
Met die inkoop van Vida Nova se leierskap, vorder hierdie gedagte in 2021 tot by 'n vaste besluit.
Die Skrif het die rigting waarin hulle aan die beweeg was, opnuut kom bevestig.
"Tydens ons oorweging, gesprekke en gebed oor Vida Nova se inskakeling by Doxa Deo, het Psalm 104 die deurslag gegee. Doxa Deo beteken die heerlikheid van God. In vers 31 – die daaropvolgende vers waar 'lewe nuut' staan, word verwys na die heerlikheid van God wat tot in ewigheid sal duur – duideliker kon die nuwe rigting nie gewees het nie," verduidelik Gerhard.
Eenheid
Doxa Deo, 'n netwerk binne die AGS van Suid-Afrika, het verskeie kampusse landwyd in Kaapstad, Gqeberha, Bloemfontein, Johannesburg, Pretoria en Durban. Daar is egter ook kampusse in die buiteland in Auckland (Nieu-Seeland), Stuttgart (Duitsland) en Londen (Verenigde Koninkryk).
"Die kerkplanting, sluit in Mosselbaai, George en alles tussenin, maar die visie vir die Tuinroete is veel breër en meer inklusief," noem Jaco. Met Doxa Deo se 25ste bestaanjaar in 2021 was daar volgens Jaco, 'n oortuiging dat kerkstrukture moet kan aanpas om nuwe behoeftes en geleenthede te kan aanspreek.
"Daarom het die skuif na die Tuinroete soveel sin gemaak," beaam Gerhard.
Doxa Deo is allermins 'n mega-gemeente, maar een familie wat in verskillende kampusse uitdrukking vind.
Kerkeenheid is 'n waarde binne die Doxa Deo-familie, maar ook na buite, word samewerking met ander gemeentes nagestreef.
"Hierdie benadering van kerkeenheid is iets waarmee ons aanklank vind. Ons gemeente is jare reeds deel van MOBCEF oftewel die ekumeniese forum waar lewegewende gemeentes in die groter Mosselbaai, saam gemeenskappe help vernuwe," sê Gerhard.
Sigbaarheid
Doxa Deo glo dat die kerk nie 'n missie het nie, maar andersom.
"Die fokus is nie op programme nie, maar op mense. Mense wat ons graag wil toerus vir die lewe met al sy uitdagings. Ons verwys na hulle as vennote wat sáám met ons werk," sê Gerhard. Doxa Deo Kids en Fusion, gemik op tieners, spreek die unieke behoeftes van jonger gelowiges aan, terwyl kleiner samekomsgroepe 'n ruimte skep vir gelowiges van alle ouderdomme.
"Omdat jongmense vir ons so belangrik is, is ons by verskeie skole betrokke deur middel van TREE, Transforming the Educational Evironment, 'n projek uniek aan Doxa Deo."
Verskeie ander gevestigde projekte in samewerking met ander gemeentes en organisasies, bedien die breër gemeenskap.
Kontak
"Ons wil jou graag nooi om Doxa Deo te kom beleef. Kom skakel in by 'n lewegewende geloofsgemeenskap," nooi Gerhard.
Sondagbyeenkomste is 08:00 en 09:30.
Kontak: 072 775 2677 of stuur e-pos na mosselbaai@doxadeo.org
Die Doxa Deo-span voor die kampus by Da Gamastraat 36.
Die Doxa Deo-span.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'