Eienaars Danie en Louretha Jacobs staan gereed om u te bederf met heerlike boerekos – of 'oupa en ouma kos' soos Danie dit graag noem! Skaapboud, groenboontjies met aartappels en uie, soet en sappige patats, witrys met heerlike vleissous word bedien in 'n omgewing wat jou tuis laat voel van die oomblik wat jy instap en met 'n glasie sjerrie begroet word. Heerlike vars slaai en natuurlik, gebakte poeding met tuisgemaakte vla rond 'n perfek voorbereide maal af.
Die binneversiering is eg plaas met 'n enorme kaggel. Deure van ou geelhout staan oop en laat die vars briesie in wat vanaf die wingerde inwaai.
Met 'n volledig toegeruste kroeg en baie spasie, is dit die perfekte venue vir daardie spesiale geleentheid, asook troues.
Planne sluit in om braaigeriewe by die dam en langs die rivier aan te bring, waar gesinne dan veilig in die natuur kan kom ontspan. Vir die kleinspan sal daar plaasdiere wees waar hulle meer oor die plaaslewe sal kan leer.
Vir die seisoen is daar spesiale karretjies wat vir die jongelinge groot pret gaan verskaf.
Die plaashuis is besig om 'n gedaanteverwisseling te ondergaan. Danie en Louretha omskep dit in 'n plaaswinkel wat interessantste items gaan verkoop. Tweedehandse en antieke ware, tot allerhande snuisterye sal op die rakke beskikbaar wees. Die idee het ontstaan nadat hulle eendag by die bekende Dassiefontein-stalletjie op die N2 naby Botrivier aangedoen het.
Die wingerde wat Danie aangeplant het is Chardonnay, Similon en Pinot Noir en hy beplan om volgende jaar op die plaas sy eie wyn te bottel. Die plaas is ook oopgestel vir die gemeenskap deur die daarstel van 'n skietbaan. Gereelde gaste sal ook langs die Hartenbosrivier, wat deur die plaas vloei, met hul visstokke kan kom ontspan en Danie vertel dat hy al sowat 11 visspesies in die waters geïdentifiseer het.
Daar sal 'n Kersete bedien word en dan gaan dit 'balke' toe wees om die jaar op Oujaarsaand met 'n boeredans af te sluit. Die restaurant sal vanaf 14 Desember tot 3 Januarie elke dag oop wees vir etes.
Kom besoek hierdie puik nuwe restaurant en geniet dit wat met soveel passie en entoesiasme opgedien word!

Kleingeluk, 'n nuwe restaurant net 2.8km buite Hartenbos.
Foto's: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'