"Met die steun van die sakegemeenskap voeg die Besigheidskamer met gesag waarde toe en vorm die spilpunt vir ekonomiese organisasies in die gemeenskap," aldus die voorsitter, mnr Johan van Rensburg, in sy voorsittersrede.
Die Mosselbaai Besigheidskamer se Algemene Jaarvergadering by die Garden Route Casino se Bravo Lounge op Donderdag, 13 Maart, is deur talle lede bygewoon om, onder meer, 'n nuwe bestuur vir die komende, vierde bestaansjaar, te verkies.
Nuwe lede is ook die geleentheid gebied om hul besighede kortliks aan die bestaande lede bekend te stel nadat hulle hul lidmaatskapsertifikate ontvang het.
Mnr Van Rensburg het in 'n kort oorsig die talle hoogtepunte van die afgelope jaar toegelig en benadruk dat kommunikasie met die 148 lede van die Besigheidskamer die hoogste prioriteit by die bestuur geniet.
Die bestaande bestuur is onbestrede herkies, hoewel mnre Eddie Jenkerson, Steven Volschenk en Rene Bongers bedank het. In hul plek is Riaan Vermeulen, Jacques Mostert en Riana Smallberger verkies.
Die nuwe voorsitter word op 8 April tydens 'n bestuursvergadering gekies. Mnr van Rensburg het aangedui dat hy nie weer as voorsitter beskikbaar is nie.
Suksesse
In 'n meningspeiling deur die Besigheidskamer, het 94% van die respondente hul tevredenheid met die werk van die Besigheidskamer uitgespreek, en talle het die behoefte aan meer besigheidseminare uitgespreek.
Die bestuur het met gereelde inligting oor die ekonomie en finansiële markte sakelui op hoogte van verwikkelinge gehou, en verskeie gespreksgeleenthede met onder meer die Burgemeesterskomitee en die Wes-Kaapse LUR van Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, minister Alan Winde gehou. Daar is ook met die uitvoerende bestuur van die hawe-owerheid beraadslaag oor die ontginning van die potentisaal wat in onderbenutte hawe-eiendomme opgesluit is.
Verskeie suksesse kan aan die huidige bestuur van die Besigheidskamer toegedig word, onder meer die opgradering van die Louis Fourie-korridor en wyse waarop verkeersdruk daarop aangespreek is en die hervestiging van staatsdepartemente soos die Departement van Binnelandse Sake in KwaNonqaba.
Die Besigheidskamer het sterk standpunt ingeneem oor die waarde van die petrochemiese bedryf vir die voortbestaan van die dorp en het die voorgestelde ontwikkelingsplanne van die sentrale sakekern en die 'n ontwikkelingstrategie vir Mosselbaai sterk ondersteun.
Daar is ook by die munisipaliteit voorspraak gemaak vir 'n insentiefprogram met laer munisipale belastings en -tariewe en goedkoper erwe vir die vestiging van besighede op die dorp.
Slyp entrepreneursvaardighede gratis
Mnr Van Rensburg het die lede aangemoedig om in te skryf vir die Opleidingskursus in Entrepreneurskap, wat onder aanvoering van die Afrikaanse Handelsinstituut by die ATKV Ouditorium vanaf 7 tot 11 April sal plaasvind.
Lede kan die kursus in entrepreneursvaardighede gratis bywoon, terwyl nie-lede R750 moet opdok. Die kursus sal deur dr Johan Louw aangebied word en al die fasette van entrepreneurskap behoorlik aanspreek.
Belangstellendes kan mnr Johan van Rensburg kontak by 083 627 1861.

Paula Marais, Riaan Niemand en Sakkie Fourie het heerlik gekuier by die Algemene Jaarvergadering van die Moselbaai Besigheidskamer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'