Mnr Terblanche het begrip uitgespreek vir die talle uitdagings wat Mosselbaai en sy mense in die gesig staar, veral vir soverre dit ontwikkeling betref, en dit gestel dat die verteenwoordigende stem van die sakegemeenskap deur die Mosselbaai Besigheidskamer dalk harder moet spreek om te verseker dat die goeie idees en voorstelle wat reeds bestaan, 'n werklikheid word.
Die geleentheidspreker, prof Stef Coetzee, was jare die hoof van die Afrika Instituut, voorheen ook die Vise-rektor van die Potchefstroom Universiteit, Rektor van die Universiteit van die Vrystaat, hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut en ook lektor in transformasie bestuur en organisatoriese vernuwing aan die Stellenbosch Universiteit se Besigheidskool.
Nou is hy 'n Mosselbaaier, wat hom bereid verklaar het om sy uitgebreide kennis en ervaring tot beskikking van die sakegemeenskap en die dorp te stel.
Prof Coetzee het 'n uiters insiggewende praatjie oor 'Die noodsaaklikheid van scenarios vir strategiese beplanning; Die implikasies vir Besighede', bespreek en toegelig aan die hand van scenariosketse deur gerekende sake- en gemeenskapsleiers soos Clem Sunter, Mont Fleur, Dinokeng, asook dié van Frans Cronjé en die Instituut vir Sekerheidstudies.
"Ons leef in ‘n vinnig-veranderende wêreld en daarom is die toekoms nie voorspelbaar nie. Scenario’s oor die toekoms verskaf egter verskillende moontlikhede oor hoe die toekoms kan uitspeel. Dit is ook belangrik vir besluitnemers om van die moontlike implikasies van die verskillende scenario’s kennis te neem, aangesien dit beleidsbesluite kan beïnvloed.
"Na 20 jaar van demokrasie staan Suid-Afrika by die kruispad. Alhoewel baie goeie vordering in die afgelope 20 jaar met die vestiging van ‘n demokratiese bestel en ekonomiese- en maatskaplike ontwikkeling gemaak is, het Suid-Afrika nie die scenario bereik met ‘n volwasse oop demokrasie, hoë en inklusiewe ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling wat armoede en ongelykheid uitwis en onderwys en dienslewering op ‘n ander pad plaas nie. Daar is ook tekens dat die onafhanklikheid van die regstelsel en die artikel nege instellings nie gerespekteer word nie."
Prof Coetzee het bygevoeg dat die vraag nou is of voortgestrompel gaan word ('muddling though') en selfs verder gaan daal na die ashoop, oftewel Zimbabwe-scenario?
Prof Coetzee sê die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) hou die potensiaal in om Suid-Afrika op ‘n hoër ontwikkelingspad te plaas. Dit is een van die min beleidsaangeleenthede waaroor daar ‘n groot mate van eenstemmigheid bestaan en wat die potensiaal inhou om die owerheid, die private sektor, die nie-owerheidsorganisasie en die burgerlike samelewing saam te snoer vir die bereiking van ‘n groter ideaal. Die verbintenis tot die NOP na die verkiesing is dus van die uiterste belang. Indien die NOP op die rak beland, spel dit niks goed vir die toekoms nie.
"Besigheid sal sterk geraak word deur die scenario wat realiseer vir Suid-Afrika. Onder ‘n gunstige scenario waarin die markekonomie gehandhaaf word, sal besigheid floreer en kan klein- en mediumsake redelik vinnig een miljoen nuwe werkgeleenthede skep. Indien die omgewing vir besigheid nie gunstig is nie, sal net die bestes oorleef en sal die bydrae van die private sektor tot werkgeleenthede nie die huidige vlak van 60% kan handhaaf nie."
Mnr Terblanche het na afloop van die vergadering gesê dit was 'n besondere voorreg om by een van die akademiese reuse in Suid-Afrika oor scenariobeplanning te leer.
"Mosselbaai is besonder bevoorreg om die tuiste van soveel kundiges op soveel terreine te wees; dit sal kortsigtig wees om nie uit hierdie diepte van kennis en ervaring te put nie. Die Besigheidskamer sal gewis baie nouer saamwerk met die kundiges in ons gemeenskap soos prof Coetzee," het hy bygevoeg.

Mnr Dawid Vermeulen, mnr Louis en mev Joy Cook en me Jeanetta Marais was in 'n gesellige luim by die Besigheidskamer se ledebyeenkoms op 29 April.
Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'