MOSSELBAAI NUUS - Meer effektiewe aanwending van die George-lughawe en Mosselbaai-hawe kan die landbou en ekonomie van die Suid-Kaap en omstreke bevoordeel. Mosselbaai se besigheidskamer het onlangs die wenslikheid en waarskynlikheid van direkte uitvoere met besluitnemers van die lughawe, die hawe en belanghebbendes opgeneem.
Beide dié strategiese fasiliteite is gevestig maar onderbenut, en sowel die logistiek en bekostigbaarheid van dienste en die omvang van moontlike uitvoere moet nog bepaal word.
Sowat 50 belangstellendes, onder meer verteenwoordigers wat vier uitvoeragente, rolspelers in die landbou, verteenwoordigers van die besigheidskamers van Oudtshoorn, George en Stilbaai, enkele raadslede van Mosselbaai-munisipaliteit en besluitnemers van die Mosselbaai-hawe en ACSA, insluitend die bestuurder van George-lughawe, me Brenda Vorster het die werkswinkel bygewoon.
Verteenwoordigers van besighede wat reeds uitvoer en boere wat aanplantings doen met die oog op toekomstige uitvoere het insette gelewer. 'n Bemarker van vye uit die Kamanassiestreek, Danel van Deventer, sê dat reeds 100 ton vye oor 'n periode van 10 weke uitgevoer word en dat aanplantings gedoen word wat dié uitvoere binnekort kan verdubbel. Die vye word padlangs na Port Elizabeth vervoer vir verskeping.
Verteenwoordigers van Berryworld SA sê dat hulle reeds 1 400 ton uit die area uitvoer en dat hulle van die George-lughawe en Mosselbaai-hawe gebruik sal maak mits dit koste-effektief is.
ACSA aan boord
Nina Engelbrecht-Malherbe, senior spesialis; vrag van ACSA, sê daar word reeds vrag vanaf George lughawe uitgevoer, meestal as deel van passasiersvlugte. ACSA kan trouens binne 24 uur goedere van George via Durban, Kaapstad en Johannesburg na 156 bestemmings, wêreldwyd vervoer.
André Vermeulen, ook van ACSA sê dat veranderings aan die bestaande George-lughawe gemaak sal moet word om vragverskuiwing te hanteer. Hy sê befondsing tussen R150 miljoen tot R200 miljoen is onmiddellik beskikbaar sodra 'n volledige behoeftebepaling na vragvolumes en frekwensie gedoen is.
Tegniese oplossings betreffende infrastruktuur by die lughawe en hawe moet bespreek en 'n koste-ontleding sal gedoen moet word.
Vermeulen het onderneem om 'n afvaardiging van hoof uitvoerende beamptes van lugrederye na die Suid-Kaap te bring om hulself van die potensiaal vir uitvoere te vergewis.
Die Mosselbaai-hawe, wat hoofsaaklik ten bate van PetroSA gefunksioneer het, is gereed om aktiwiteite uit te brei om meer op in- en uitvoere te fokus. Volgens Dave Keller, het die hawe die kapasiteit om vraghouers te hanteer. Daar is reeds maatskappye wat bereid is om by die hawe aan te doen, mits daar 'n behoefte bestaan.
Keller sê genoeg bergingspasie is by die Voorbaai spoorwegdepot, 7,24km geleë van die hawe, beskikbaar. Die vraghouers kan daar gestoor en per spoor na die kaai gebring word vir verskeping. Produkte word reeds vanaf die hawe na Port Elizabeth verskeep, waar dit oorgelaai word op skepe wat dit oorsee neem.
Paul Hoffman van Southern Cape Economic Partnership (SCEP) het die groeipotensiaal van die uitvoermark bespreek. Hy het verwys na die onlangse Tuinroete Beleggingskonferensie deur die Eden-distriksmunisipaliteit waar 49 projekte vir potensiële beleggings geïdentifiseer is. Navrae is van veral die Sweedse en Chinese afgevaardigdes ontvang.
Mosselbaai se besigheidskamer het onlangs besluitnemers van onder meer die George internasionale lughawe, die Mosselbaai-hawe en tersaaklike sakelui byeengebring vir 'n stimulerende gesprek oor die potensiaal van uitvoere na ander markte vanuit die Suid-Kaap en omgewing. Foto: Denise Lloyd
Volgens statistiek (Wesgro) wat Hoffman aangehaal het, is die potensiaal vir direkte uitvoer uit die streek baie hoog. In 2015 was die totale uitvoere hiervandaan R2,6 biljoen en dit neem toe, met veral Amerika, Brittanje, Frankryk en Namibië as vernaamste markte. Die uitvoere na China en Mexiko het toegeneem.
Veral sitrus, leer, sade, vrugte, vleis, velle en gevriesde vis word uitgevoer. Terwyl proteas (Nederland), macadamias, avokado's, aarbeie, wyn, blomme en loof, hops, granate, olywe en kiwivrugte in gewildheid toeneem. Daarbenewens word hout, houtskool, afvalmateriaal, groentesaad, volstruisprodukte en aalwynprodukte reeds hiervandaan uitgevoer.
Vrugte vanuit die Waboomskraal- en Langkloof-omgewing mag waarskynlik meer koste-effektief vanaf die George-lughawe uitgevoer word. Deon Barnard van Waboomskraal sê indien alle potensiële uitvoere saamgevoeg word, dit genoeg sal wees om die uitvoere van George-lughawe en Mosselbaai-hawe lonend te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'