Die boeredag is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou gereël om Angoraboerdery as ‘n alternatiewe boerdery in die Wes-Kaap bekend te stel, en die verskillende sprekers het uitmuntend hierin geslaag.
Justin Coetzee van die SA Mohair Growers’ Association (Samga), het verduidelik hoe die liggaam die sybokboere ondersteun. Samga ondersteun sybokboere deur riglyne te verskaf vir suksesvolle sybokboerdery en die suksesvolle kweek en bemarking van sybokhaar.
Chrisna Coetsee, landbou-ekonoom van NWKV het meer vertel van die ekonomiese studiegroepe, 'n gratis diens wat aan boere in die suidelike provinsies van die land verskaf word. Dit behels volledige ontledings vanaf bestuurspraktyke en reproduksie tot op netto boerdery inkomste vlak.
Maar dit was Anlé Marais van Mohair South Africa (MSA) wat die sybokboere of voornemende produsente meegevoer het met haar aanbieding oor bemarking van sybokhaar as voorkeur vesel vir die wêreld se modebase en interieurontwerpers. Haar visuele aanbieding van sybokhaar op die wêreldmark het die boodskap oorgedra dat die sybokbedryf baie wyer strek as ‘n klompie sybokke op ‘n plaas in die Karoo.
Suid-Afrika produseer tans sowat die helfte van die wêreld se sybokhaar en Mohair SA (MSA) het ten doel om sybokhaarbewustheid te kweek deur middel van internasionale vennootskappe. Om dit te vermag bring Marais lang ure deur op vliegtuie op pad na toonaangewende modehuise, hetsy klere of toebehore. “Dit klink na pure pret, maar dit is eintlik baie harde werk om kontak te bewerkstellig tussen produsent en prosesseerder, koper en vervaardiger,” het sy na die aanbieding gesê.
Sy het tydens ‘n inligtingsessie vir die vroue wat die dag bygewoon het, klem gelê op waardetoevoeging deur werkskepping op plase. “Die neiging is al meer na handvervaardigde produkte met ‘n storie daaragter.”
Gerhard Grobler, sybokhaarboere-ontwikkelingsbeampte by die Empowerment Trust was ingenome met die groot groep nuwe boere wat die bedryf wil betree.
Die sessie na middagete het ‘n besoek aan Truter se fasiliteite en diere ingesluit, toegelig met lesings deur Truter self, en Cassie Carstens van CMW. “Die praktiese sessie het baie vrae gehad en kon ons almal antwoord. Opkomende en selfs huidige produsente is verryk hier weg,” het Truter gesê.
(1).jpg)
Die organiseerders en sprekers van die Sybokhaar Boeredag wat vroeer die week gehou is. Van links is Gerhard Grobler, Manie Grobler, Anle Marais, Cobus de Klerk, Weeber Truter en Justin Coetzee. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | KLein-Karoo nuus'