Dr. Cloete ontvang hierdie week [einde Maart 2015] haar doktorsgraad in plantpatologie tydens die Maart-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US). Haar studieleiers was dr. Lizel Mostert van die US Departement Plantpatologie, en dr. Francois Halleen van die Landbounavorsingsraad (LNR).
Esca kan op die oog af nie sommer so in ‘n wingerd uitgeken word nie. Boere praat egter dikwels daarvan dat hul wingerde sogenaamde beroerte het, en nie op hul beste lyk nie. In sommige gevalle verskyn tieragtige strepe op wingerdblare net voor die herfs. Eers wanneer die stompe oopgesaag word, kan ‘n mens duidelike verkleuring of vrot kolle in die houtweefsel sien.
Volgens ‘n onlangse artikel in die Engelse dagblad The Telegraph het minstens 13% van alle Franse wingerde reeds esca onder lede, en kos dit hul industrie reeds sowat 1 biljoen Euros. Dit kom ook in Australië, die VSA en Suid-Amerika voor, en word daar ook gewoonlik deur ‘n verskeidenheid luggedraagde fungusspesies oorgedra.
“Die impak van esca op Suid-Afrikaanse wingerde is nog nie in randwaarde omgesit nie, maar boere kry beslis nie meer deesdae die 30-jaar leeftyd en drakrag uit hul aanplantings soos van ouds nie,” vertel dr. Cloete.
Haar navorsing vorm deel van ‘n groter inisiatief wat reeds in die vroeë jare 2000 deur die LNR begin is om die voorkoms van esca in Suid-Afrikaanse wingerde te ondersoek, asook die swamkomplekse wat dit veroorsaak. Monsters is sedertdien van verskillende wingerde regoor die land versamel en geanaliseer.
Twee van die nuwe fungusspesies wat houtverrotting veroorsaak en deur dr. Cloete beskryf is, kom wydverspreid in Wes-Kaapse wingerde voor. Die derde spesie is in wingerde in die somerreënvalgebiede van die Noord-Kaap en Limpopo gevind.
Dr. Cloete raai dat die meeste houtverrottende swamspesies wat in Suid-Afrikaanse wingerde gevind word, natuurlik in die inheemse omgewing voorkom en na wingerd as gasheerplant oorgedra word.
“Dis dalk die beste as boere fokus op snoeiwondbeskerming as beheermaatreël,” raai sy aan.
Dr. Cloete het ook verdere toetse gedoen om die siekteveroorsakende vermoë van witvrot-spesies op twee kultivars vas te stel. Al tien spesies het witvrot veroorsaak op Shiraz en Mouvedre. Mourvedre was ook oor die algemeen meer vatbaar vir witvrot as Shiraz.