Video
MOSSELBAAI NUUS - Sowat 25 landbouers, onder meer kleinboere van die Herbertsdale- en Buisplaasomgewing, het Maandag 35 ton mielies as droogtehulp van die OVK ontvang.
In samewerking met Agri Wes-Kaap en die Herbertsdale Boerevereniging, het OVK droogtehulp aan boere in dié geweste bewillig weens die knellende droogte wat etlike maande reeds duur en in felheid toeneem.
Van vroeg Maandagoggend het groepies boere die karweier knap buite Herbertsdale ingewag. Die gesels het hoofsaaklik oor die droogte gegaan, met boere suid van Herbertsdale wat erger daardeur geraak word as dié wat nader aan die berge boer.
Die omgewing is veral vir melkproduksie bekend en op talle plase trek dit noustrop. Die rivier is kurkdroog en lande waarop gewasse uit die rivier besproei is, lê dor.
"Ons moet nie net vir die OVK dankie sê nie, ons moet die Here ook dank. Ons vra maklik vir reën. Ons moet solank dankie sê vir die reën wat op pad is," het Gordon Daniels van Herbertsdale gesê terwyl gewag is vir die vragmotor van Jonckies Vervoer wat die vrag mielies gebring het.
Sandra Siebert wat in die Buisplaas omgewing boer, het gesê die droogte raak nie alle boere ewe erg nie omdat die reën wat wel geval het, kol-kol uitgesak het.
Sommige van die kleinboere in die Herbertsdale- en Buisplaasomgewing het ook voordeel getrek uit die droogtehulp.
Volgens Piet Britz, wat die skenking gekoördineer het, het SSK die vervoerkoste deels gesubsidieer. Nie alle boere het dieselfde voordeel uit die skenking getrek nie aangesien sommige by 'n vorige geleentheid reeds droogtehulp uit Lichtenburg ontvang het.
"Ons het 'n oproep van Sandra Ferreira van OVK ontvang met 'n aanbod vir 25 ton losmaat mielies. Om die vervoerkoste te regverdig, het Herbertsdale se boere gevra of hulle nie mielies bykomend kon koop om 'n vrag vol te maak nie. Die uiteinde is dat die skenking 35 ton, oftewel 700 sakke mielies opgelewer het."
'n Paar van die boere beplan hoe OVK se ruim droogtehulpdonasie van die vragmotor afgelaai moet word.
Die voorsitter van die Herbertsdale Boerevereniging, Kolie Britz, bedank OVK vir die ruim skenking, Agri Wes-Kaap en SSK vir hul hulp en ondersteuning, asook Jonckies Vervoer wat die vrag op Clocolan gaan haal het. "Die boere het self ook ingestaan vir van die vervoerkoste.
Vroeër is droogtehulp ook van Boere in Nood ontvang, en ons sê opreg dankie vir almal wat hulp bygedra het."
Kyk 'n video hier:
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'