- Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, verteenwoordigers van die Namibiese Vleisraad, die Namibiese Landbou-unie en die Lewendehawe Produsente Organisasie is dit eens dat die vee wat vir Suid-Afrika bestem is slegs uitgevoer kan word na een van drie eindbestemmings:
- direk aan 'n abattoir vir onmiddellike slagting;
- direk aan 'n erkende voerkraal vir uiteindelike slagting; of
- as teeldiere vir veeverbetering, indien vergesel deur die korrekte stoetteeldokumentasie.
Gedurende die afgelope paar maande verskyn al hoe meer vee met die Namibiese 'N' brandmerk op die nek, maar waarvan die naspeurbaarheids- oorplaatjies verwyder is, op die Suid-Afrikaanse veeverkopings in verskeie van die Noordelike Provinsies.
Dié vee word te koop aangebied deur verskeie spekulante wat tans ondersoek word vir die weergee van vervalsde uitvoerinligting.
Die Rooivleisbedryfsforum versoek dringend dat:
- alle vee-invoere korrek gemerk word met die voorgeskrewe 'N’ nasionale brandmerk en naspeurbaarheids-oorplaatjies;
- alle vragmotors wat vee oor die grense heen vervoer korrek verseël word, met die seëlnommer aangebring op die uitvoerdokumentasie en dat seëls net by die finale eindbestemming gebreek word;
- die eindbestemming duidelik gespesifiseer word op 'n invoerpermitaansoek;
- die eindbestemming op die dokumentasie wat deur die Namibiese Staatsveearts onderteken word verskyn;
- indien die vee vir teeldoeleindes ingevoer word, hulle vergesel sal word deur 'n invoerpermit wat uitgereik is deur dieregistrateur en die nodige gesondheidssertifikaat toepaslik op daardie gegewe oomblik;
- indien die vee bestem is vir 'n voerkraal, dit net 'n goedgekeurde voerkraal sal wees (minimum kapasiteit van 1000 kop, ‘n lid van die Suid-Afrikaans Voerkraalvereeniging of bekend aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye);
- die vee gevoer word vir 'n minimum van 60 dae voordat dit bemark word aan 'n abattoir;
- proefsteekkontrole gedoen word by veeverkopings en dat beide die verkoper en vee-agent verantwoordelik gehou word indien die ooreenkoms oortree word.
Kontak die Rooivleisbedryfsforum by 012 665 1469.