KLEIN KAROO NUUS - South African Water Warriors vertrek komende Saterdag, 10 April, weereens op ‘n uitreik na Ladismith in die Klein-Karoo om ongeveer 150 boere en werkersgesinne van droogte- en humanitere hulp te voorsien nadat ‘n groepie boere die noodkreet uitgestuur het.
Twee konvooie sal voorrade vervoer, een van die Kaap, gelei deur die Water Warriors-stigter, Deon Smit, en een vanuit George, gelei deur Pieter du Plessis.
"'n Voertuig al die pad van Pretoria af sal in Oudtshoorn by die George-konvooi aansluit," sê Du Plessis.
Hulle neem 150 lusernbale, 15 ton mielies, 1 ton aartappels, 30 ton water, ongeveer R70 000 se kruideniersware, noodboksies vir die vroue van elke gesin en R15 000 se diesel na Ladismith. "Ons gee dit alles gratis aan die boere en hul plaaswerkers. Dit is ons manier om dankie te sê vir wat die boere en hul werkers doen, en hulle te bemoedig."
Al die skenkings word met motors en bakkies vervoer deur vrywilligers wat hul tyd opoffer en op hulle eie koste saam die South African Water Warriors werk. "Hulle is die absolute hartklop van ons organisasie," sê Du Plessis. Die 30 ton water word vervoer met Mans Vervoer se trok van die Kaap.
"Ons poog om nie net humanitere en droogtehulp te voorsien nie, maar om tyd te spandeer met die boere en hul werkers met die doel om vir hulle te wys dat daar nog mense in Suid-Afrika is wat omgee. South African Water Warriors kan dit nie doen sonder die hulp van elke donateur, vrywilliger en die ondersteuning van Suid-Afrika se mense nie," sê Du Plessis.
Vir meer inligting of as jy 'n bydrae wil lewer, bel Pieter du Plessis by 076 844 6435.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'