MOSSELBAAI NUUS - Om te voldoen aan die versoek van tientalle bonsmaraboere wat ook wil deelneem aan die nasionale bonsmaraveiling, word die eerste nasionale bonsmaradag op die internet-veilingsplatform www.beeswinkel.co.za uitgestel tot 30 Mei.
Die invloed van die droogte het in baie streke tot gevolg gehad dat koeie later as gewoonlik gekalf het en dat baie boere se kalwers nog nie gereed is om te bemark nie.
"Deur die veiling uit te stel tot 30 Mei maak dit ekonomies soveel meer sin vir die boere en die bedryf in die algemeen," sê Petrus van Heerden, direkteur van Beeswinkel.
Louis Steyl van Bonsmara SA sê dat daar met die nasionale bonsmaradagveiling 'n geleentheid geskep word waar veral kommersiële boere wat belê het in bonsmarabulle, 'n uitstekende bemarkingsgeleentheid gebied word om met hul kalwers te spog en hulle terselfdertyd aan die hele land se kopers gelyk aan te bied. Kommersiële boere wat graag wil deelneem aan die nasionale veiling word genooi om Bonsmara SA se stalletjie op 14 tot 17 Mei by Nampo te besoek vir meer inligting.
"Bonsmaratelers kan nou reeds op die Beeswinkel-platform registreer om hul aanbod betyds te kan laai," aldus van Heerden.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'