Johannes Möller, President van Agri SA het daarop gewys dat "dit algemene kennis is dat die skakeleffek van die landbousektor lei tot 'n bydrae deur die landbouwaardeketting tot die ekonomie van ongeveer 15 persent. In eie reg is die landbou 'n belangrike sektor en drywer vir groei in die res van die ekonomie". Hy het voorts gesê dat "Agri SA se belangrikste taak is, om dit vir boere moontlik te maak om kommersieel suksesvol te wees. Ons poog om dit te doen deur gebruik te maak van die kundigheid in ons eie geledere, maar ook om van buitekundigheid en raadpleging met verskeie buite organisasies, gebruik te maak".
Hans van der Merwe, Uitvoerende Direkteur van Agri SA het toeligting verskaf oor die jongste landbou-ekonomiese tendense en 'n rooskleurige prentjie geskets van die landbou teen die agtergrond van die toename in netto-boerdery-inkomste. Hy het daarop gewys dat dit nie met insetverskaffers kan goedgaan as die primêre landbou kwyn nie. Die primêre landbou kan ook nie sonder effektiewe en mededingende insetverskaffers en besighede in die sekondêre bedryf floreer nie. Hy het ook verskeie struktuurveranderings in die bedryf uitgewys wat bepaalde uitdagings aan die georganiseerde landbou en landboubesighede stel.
Tydens die middagete verrigtinge het Agri SA erkenning gegee aan uitstaande advertensies wat die afgelope jaar in die Agri tydskrif verskyn het. Toekennings is aan maatskappye in die volgende kategorieë gedoen:
- Meganisasie (Smith Power Equipment)
- Tegnologie gebaseerde oplossings & landbouprodukte (Monsanto)
- Dieregesondheid (Merial South Africa (Pty) Ltd)
- Finansiële instellings (Absa)
- Besproeiing (Senter360)
- Saad (Pannar Seed (Pty) Ltd)
- Veevoer & voerbyvoeggings (Biomin Animal Nutrition (Pty) Ltd)
- Bemesting (Omnia)
- Chemiese middels (Basf)
- Gereedskap en toerusting (Trogtek)
- Telekommunikasie (Vox Telecom Limited)
Projek Suiderkruis ondersteun deur Voermol is ook tydens die geleentheid bekend gestel as 'n fondsinsamelingsinisiatief vir die bevordering van landelike veiligheid. Dié projek is die ideaal van Leon van Dijkhorst, Sentrale Streeksbestuurder van Voermol om met die ondersteuning van borge, landboumaatskappye en fondsinsamelingsgeleenthede geld in te samel om die werk van die Agri Securitas Trustfonds finansieel te ondersteun. Die Trustfonds se oogmerk is daarop gerig om plaasmisdaad te voorkom.
Verskaf deur Agri SA.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'