MOSSELBAAI NUUS - Een oggend vroeg het Pieter van Zyl 'n piepklein tamatieplantjie tussen die krake van die plaveisel voor sy huis in die St Blaize-kompleks op Mosselbaai ontdek.
Van die twee se eerste ontmoeting af het die tamatjieplant met sy groot blare Pieter beïndruk.
"Ek het vir die plantjie gesê: jy is iets anders met baie potensiaal."
Dit is nou twee maande later en die einste tamatieplant spog met meer as 200 tamaties.
'n Trotse Pieter praat oor die tamatieplant soos 'n pa oor sy kind. "Met liefde, omgee en aandag versorg ek my tamatieplant.
Met die pragtige bloedrooi tamaties glo ek dit is die plant se manier om vir my dankie te sê dat ek sy potensiaal raakgesien het."
Pieter het bloot 'n mengsel van skaap-, bees-, en perdemis gemeng en dit sommer so op die plaveisel om die tamatieplant gestrooi.
Enkele dae later het die tamatieplant reeds kniehoogte gestaan en yslike tamaties begin dra.
Pieter het vir die Mossel Bay Home Ads News een van die sappige ryp tamaties afgepluk en, nadat die koerantspan dit sommerso sonder sout of peper geëet het, kan daarvan getuig word dat die tamaties werklik smaaklik is.
Tamaties
Die woord tamatie kan na die plant (Solanum lycopersicum) verwys, of na die eetbare, gewoonlik pragtige rooi vrug wat dit dra.
Die tamatie is oor die wêreld heen versprei gedurende die Spaanse kolonialisering van die Suid-Amerikas, waar dit oorspronklik vandaan kom.
Dit word nou baie algemeen verbou, insluitend kweekhuise of plastiektonnels in koeler wêrelddele.
Tamaties word op verskeie maniere verbruik, byvoorbeeld rou, gebraai of gekook as bestanddeel van baie geregte en souse, en ook in drankies.
Plantkundig word die tamatie as 'n vrug beskryf, maar vir kookdoeleindes word dit as 'n groentesoort beskou.
Die vrug is ryk aan likopeen, wat positiewe gesondheidseienskappe kan bevorder. Die tamatie behoort tot die nagskadu-familie.
Die plante groei gewoonlik een tot drie meter hoog en beskik oor 'n slap stam wat in die algemeen oor die grond kruip of oor ander plante rank.
In sy natuurlike habitat is die tamatie 'n meerjarige plant, maar binnenshuis kan dit as 'n eenjarige gekweek word.
Kweek u eie tamaties
Kies ’n sonnige plek en berei die grond voor met ’n handvol 2:3:2 per vierkante meter, of soos in Pieter se geval, bederf jou tamatie met veemis.
Plant tamatiesaailinge in rye 30-40cm van mekaar.
Maak die saailinge goed nat, maar moet dit nie verdrink nie, tamaties hou nie van te veel vog om hul wortels nie.
Probeer om nie die blare nat te maak nie, want dit maak die plante meer vatbaar vir swaminfeksies.
Wanneer die plante begin groei, gebruik latwerk of ’n tamatiehok waarteen dit opgelei kan word.
Sodra die vrugte begin vorm, voed tamatieplante een keer elke twee weke met ’n misstof wat ’n hoë stikstofinhoud het, soos 3:1:5.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'