Die 29-jarige McKenna van die Saag Jonker Groep was die wenner van die kategorie Senior Bestuur, en is daarna aangewys as die algehele wenner in die jaarlikse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie.
Min. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse Minister van Landbou het sy prys aan hom oorhandig. In sy toespraak het die minister klem gelê op die geweldige waarde van landbou in ons land en daarop gewys dat die plaaswerkers ‘n deurslaggewende rol in die sukses van boerdery speel en altyd daarna moet streef om hul potensiaal te ontgin.
Die aankondiging van die algehele wenner is gedoen deur mnr. Piet Lodder, Hoofbestuurder van Agri Klein-Karoo. Tydens die aankondiging het Lodder die gaste vertel dat McKenna homself nie net bepaal tot sy pligte as senior bestuurder nie, maar ook baie betrokke is by die boerdery se kleuterskool en die gemeenskap, ‘n diploma in finansiële bestuur verwerf het, en pas sy studies by UNISA afgehandel het waar hy die graad BA (Bedryfsielkunde) behaal het.
Lodder het voorts gesê dat hy en die hele gemeenskap trots kan wees op iemand wat as ‘n plaasseun grootgeword het en met deursettingsvermoë en toewyding gekom het tot waar hy vandag is.
Nadat McKenna sy toekenning van Mini-ster Van Rensburg ontvang het, het hy self die mikrofoon geneem en almal bedank vir hul vertroue en bystand. Hy het afgesluit deur te sê dat die waardevolste les wat hy ooit op die plaas geleer het, was toe die boer op ‘n dag vir hom gesê het hy moet altyd onthou dat almal moet help om die koei te voer sodat almal kan deel in die koei se melk.
McKenna gaan op 18 November Kaapstad toe waar die Plaaswerker van die Jaar vir Wes-Kaap gekies sal word.
Tydens ‘n gesprek met die Oudtshoorn Courant het hy genoem dat hy verdere studies in maatskaplike werk beplan. Hy sê dat hy graag meer betrokke wil raak by sy gemeenskap en ‘n groter bydrae wil lewer om gemeenskapsprobleme op te los.
Kategorie-wenners
Die wenners in die nege onderskeie kate-gorieë, waaruit die algehele wenner aan-gewys is, is soos volg:
Olga Johannes (Diereproduksie), Justin Hendricks (Algemene werkers), Samuel Maans (Besproeiing), William Olckers (Middelbestuur), Nolene Matroos (Junior bestuur), Sageas McKenna (Senior Be-stuur), Wilma Mei (Administrasie), Moos Thomas (Trekkerdrywers) en Alfred Kerspuy (Tegniese operateurs).
Die nege kategorie-wenners saam met mnr. Piet Lodder (Hoofbestuurder, Agri Klein-Karoo). Agter, van links: Piet Lodder, Olga Johannes, Justin Hendricks en Samuel Maans. Voor: William Olckers, Nolene Matroos, Sageas McKenna, Wilma Mei en Moos Thomas. Afwesig: Alfred Kerspuy.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS