MOSSELBAAI NUUS - Die Melkprodusente-organisasie (MPO) se 2018 The Dairy Mail Innoveringstoekennings is oop vir inskrywings.
Hierdie toekennings, wat vanjaar die vyfde keer gemaak gaan word, is ontwerp om maatskappye en produkte te vereer wat tegnologiese oplossings konseptualiseer en vervaardig om die Suid-Afrikaanse melkboere te help om hul bekwaamheid, produktiwiteit en winsgewendheid te verbeter.
In 'n persvrystelling uitgereik deur dr Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO word melkprodusente met 'n produk of idee wat op die voorpunt van tegnologie is en erkenning verdien, uitgenooi om aan die 2018 The Dairy Mail Innoveringstoekennings deel te neem.
Die suiwelbedryf ondervind tans heelwat uitdagings, en dit beklemtoon die kritieke rol wat innovering speel om melkboerderye meer mededingend en volhoubaar te maak.
Dit is waarom die MPO innovering in die suiwelbedryf met toekennings aanmoedig en beloon.
Inskrywings moet oorspronklik en bruikbaar wees en waarde toevoeg tot die ondernemings van melkboere en -produsente landswyd. Indien jy oortuig is dat jou maatskappy se produk aan die maatstawwe van die kompetisie voldoen, dan is dit ’n eersteklas-kandidaat vir hierdie gesogte toekenning in die suiwelbedryf.
Redakteur van The Dairy Mail Robyn Joubert sê: “Die Innoveringstoekennings bied ’n toonvenster vir die jaar se ambisieuse nuwe produkte en ontwikkelings afkomstig van ’n hele reeks maatskappye, klein en groot. Om die finaliste en die wenner dop te hou is altyd ’n uitstekende manier om uit te vind wat die volgende groot tendens in die bedryf gaan wees.”
Om vir die prys in aanmerking te kom moes jou produk die Suid-Afrikaanse suiwelprodusentemark tussen 1 Julie 2017 en 30 Junie 2018 betree het. Inskrywings word in ’n verskeidenheid kategorieë aanvaar, insluitend innovasies op die plaas, suiwelverwerkingsinnovasies, en innovasies in inligtingstegnologie en bestuurstelsels.
Inskrywingsvorms is beskikbaar op die MPO-webtuiste – asook die webtuiste van Agri Connect.
Voltooi die inskrywingsvorm en stuur dit aan die redakteur van The Dairy Mail by robyn@agriconnect.co.za nie later nie as 30 Junie.
Die wenner word aangekondig op die jaarlikse MPO-galadinee. Die wenproduk kry blootstelling in ’n vyfblad-artikel in die Desember-uitgawe van The Dairy Mail om dit bekend te stel aan ’n wye verbruikersbasis in die gemeenskap van melkprodusente.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'