MOSSELBAAI NUUS - Sowat 150 mense van Mosselbaai, George, selfs Riversdal het die eerste stadsaalgesprek oor ondersoeke na die vestiging van 'n akwakultuurontwikkelingsone in die baai, bygewoon.
Enersyds het die groep die belange verteenwoordig van mense wat werklik uitsien na waarskynlike werksgeleenthede en beleggingsmoontlikhede wat die bedryf van 'n visplaas (of visplase) mag meebring; andersyds het omgewingsbewustes bekommerd bespiegel dat dit die einde van die ongerepte baai en verwante en marine-toerisme mag meebring.
Heelparty het egter stil geluister na die aanbiedings deur regeringslui wat intiem betrokke is by die magtiging, lisensiëring en nakoming van 'n effektiewe, volhoubare akwakultuurbedryf as deel van die regering se Operasie Phakisa. Phakisa is daarop ingestel om die oseane-ekonomie deur akwakultuur te ontsluit.
Mosselbaai se verlede was, tot so onlangs soos die koms van die petrochemiese bedryf na dié area, baie nou verweef met die see. Talle inwoners maak reeds vir generasies en steeds 'n lewe daaruit.
Verlede
In 2008 het openbare aandrang die maatskappy I&J se planne vir 'n visplaas buite Mosselbaai gekelder hoewel die departement van omgewingsake en toerisme (DEAT) ná 'n omvattende omgewingsim-pakstudie die I&J akwakultuurprojek goedgekeur het. Sowat 200 inwoners het hul werk verloor toe I&J hul bedrywighede op die dorp gestaak het.
Inisiatief
"Dit is die verantwoordelikheid van plaaslike owerhede om ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede te identifiseer en ekonomiese ontwikkeling te fasiliteer. Die munisipaliteit kan nie 'n direkte rolspeler wees in die akwakultuurontwikkelingsone nie. Verskeie ander ekonomiese ontwikke-lingsgeleenthede word wel ook ondersoek.
"Die munisipaliteit het onlangs 'n bestuurder; ekonomiese ontwikkeling aangestel juis om stukrag aan ekonomiese ontwikkeling te gee.
"Die munisipaliteit het wel op versoek die departement van landbou bosbou en visserye (DAFF) genader vir 'n ondersoek na die wenslikheid, die waarskynlike lewensvatbaarheid en impak op die omgewing van 'n akwakultuur-ontwikkelingsone," het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee voor die Indaba aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Hy sê verskeie ander provinsiale en nasionale departemente is dan ook deur die munisipaiteit genader om ander ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede, onder meer die ontginning van brandstof uit organiese materiale, te ondersoek.
Wetenskaplike onderbou
Tydens die indaba het Ferdie Endeman, 'n spesialis-uitbreidingsbeampte: akwakultuur van DAFF die bedryf van verskeie modelle van visplase toegelig en dit benadruk dat 'n omvattende omgewingsimpakstudie en lewensvatbaarheidstudie sal moet bepaal of visplase in die baai wenslik is en lonend bedryf sal kan word.
"Die omgewingsim-pakstudie sal bepaal waar, indien wel, visplase in die baai gevestig kan word en watter tipe vis volhoubaar verbou sal kan word." Hy het beklemtoon dat tegnologie in die bedryf van visplase aansienlik verbeter het, en dat heelwat wysigings gedoen is aan modelle wat tot nog toe prakties in Suid-Afrikaanse omstandighede getoets is.
Dit is dus nie 'n uitgemaakte saak dat vinvis by voorkeur verbou sal kan word nie. Hy het ook tipiese probleme toegelig, soos die beskikbaarheid van sogenaamde fingerlings, oftewel babavis, wat in die visplaas tot wasdom verbou kan word. Dit mag selfs wees dat nie vinvis nie, maar eerder skulpvis liefs verbou kan word.
Waterkwaliteit
"Goeie waterkwaliteit is onontbeerlik vir effektiewe visplase," het Endeman benadruk en verwys na probleme wat visplase in dorpe op die Tuinroete ondervind juis omdat waterkwaliteit nie gehandhaaf kan word nie.
Sowat 150 mense het die Mossel Bay Advertiser se Indaba oor die vestiging van 'n akwakultuurontwikkelingsone in die baai op Maandag, 13 Augustus in die stadsaal bygewoon.
Prosesse
Kishan Sankar, 'n akwakultuuradviseur van Operasie Phakisa se eenheid in die hoofdirektoraat: akwakultuur en ekonomiese ontwikkeling van DAFF het die regulatoriese en wetgewende prosesse wat die vestiging van 'n akwakul-tuurontwikkelingsone voorafgaan, bespreek. Dit was duidelik dat dit 'n baie omvattende proses is wat nóg nie op Mosselbaai 'n aanvang geneem het nie, en dat baie wigte en teenwigte die suksesvolle bedryf van 'n akwakultuurontwikkelingsone sal bepaal.
Sankar het veral klem gelê op die openbare deelnameprosesse wat deel sal vorm van hierdie ondersoeke.
Privaatsektor
Die waarnemende direkteur: volhoubare ontwikkeling van akwakultuur by DAFF, me Zimasa Jika het benadruk dat, selfs al sou die omgewingsimpakstudie en lewensvatbaarheidstudies positief wees, dit nie sondermeer volg dat 'n visplaas gevestig sal kan word nie.
"Die regering sal nie 'n visplaas hier vestig of bedryf nie. Die gemeenskap moet hulself organiseer sodat hulle in die bedryf van effektiewe akwakultuurbedrywighede kan belê en waarde daaruit kan put. Die vestiging van 'n visplaas is afhanklik van beleggers en beleggersvertroue, waarvan die openbare sentiment ten opsigte van die projek 'n belangrike komponent vorm.
Vrae, vrese en versoeke
Jika het inwoners aangemoedig om as belanghebbendes te registreer sodra die omgewingsimakstudie 'n aanvang neem.
Vrae, onder meer deur die Huis van Gourikwa, die gastehuisbedryf, S.M.A.R.T. en verskeie andere is deur prof Erwin Schwella van onder meer die Universiteit Stellenbosch se SociaNovus-inisiatief gefasiliteer. Daar was ook geleentheid om individuele vrae na afloop van die verrigtinge aan die onderskeie sprekers te rig en heelwat informele gesprekke het gevolg.
Die behoefte is gelug dat dié stadsaalgesprekke 'n gereelde instelling moet word en dat die gemeenskap so die geleentheid moet kry om oor kernonderwerpe wat almal raak gesprek te voer. 'n Webportaal is voorgestel met volledige inligting oor die vestiging van 'n akwakultuurontwikkelingsone in die baai, wat geleentheid sal bied vir vrae waarop kundiges kan antwoord.
Die sprekers het aangedui dat hulle bereid sou wees, vir soverre moontlik, om aan só 'n inisiatief deel te neem.
Jika het bygevoeg dat - na haar wete - dit die eerste keer is dat 'n dorpsgesprek plaasvind oor 'n voorgenome ondersoek na die wenslikheid al dan nie van 'n akwakultuurontwikkelingsone nog voordat met 'n omgewingsimpakstudie of lewensvatbaarheidstudie begin is.
"Dit is 'n goeie begin vir die beoogde studies, en inwoners moet aangemoedig word om as belanghebbendes aan die proses deel te neem."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'