Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Twee jaar gelede wou Burre Burger (32), oudrugbyspeler van Vredendal, sy eie lewe neem, maar daar was 'n groter doel vir hom bestem.
Ons gesels op 'n koue winteroggend terwyl boere op Mosselbaai vir 'n gratis aflewering mielies vir hulle diere wag. Burre staan aan die stuur van die projek, Droogtehulp en duisende boere is reeds weens die organisasie met voer gehelp.
"Ek het my eie lewe probeer neem, maar ek is gered en daarna het ek vir die Here gesê dat ek iets inruil vir my lewe wil doen."
Burre het die idee gekry om noodvoer vir droogtegeteisterde boere te begin en het nog nooit weer teruggekyk nie. Wat begin het met vyf vragte voer vir boere, staan vandag op vrag 838.
"Dis ongelooflik en dis nie ek nie, dis die Here. As Hy my nie gehelp het in 2016 nie, sou ek dit nie kon doen nie."
Mense nooi Burre nou vir praatjies in Ierland en Australië, en hy sê hy besef nou vir die soveelste keer hoe magtig die Here is. "Dit is 'n groot projek en ons is vandag besig om nog vragmotors met voer te laai in Hartswater wat op pad is na die Namakwaland. Volgende week laai ons nog 10 vragmotors wat bestem is vir die Oudtshoorn-omgewing.
"Dit is uiteraard 'n groot logistieke en administratiewe taak om al hierdie goed te laat gebeur en dit vlot te laat hardloop. Dit is nie net 'n geval van laai die vragmotors en gaan nie. Hier sit ons vandag op Mosselbaai met 'n vragmotor wat heeltyd vassit en dis deel van die logistiek en dit vat tyd op."
Burre sê daar was 'n tyd dat hy graag op Sondae rustig wou wees. Hy is al bestempel as die Krismisvader van die Boesmanland en een Sondag het 'n sekere foonnommer aanhoudend na sy selfoon gebel. "My foon lui baie maar dié persoon het my sat gebel en nadat ek die stemboodskap geluister het, het ek Nico van den Berg se oproep gevat." Van den Berg het vragmotors en mielies vir Burre se projek aangebied en het reeds 42 vragmotors vir die gebruik geskenk."
Burre is in die groente- en vrugtebedryf en noem homself 'n glorified smous. "Ek hoor elke dag boere kla en het besluit ons gaan die negatiewe goed omdraai in positief, want dan word dit positief en kyk net wat het nou gebeur."
Kyk 2 video's hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'