TUINROETE NUUS - Bonsmaraboere van heinde en verre het die afgelope naweek in snerpende koue die Suid-Kaap Bonsmaraklub se agste Prestige Bonsmara-veiling op Herold bygewoon.
Veertig kopers het registreer en die omset was R1.8 miljoen. “Ons is tevrede met die opkoms en die verkope,” het Ockie Potgieter, voorsitter van die klub gesê.
Die twee duurste stoetbulle is deur kopers uit die Vrystaat en Oos-Kaap gekoop.
Die bulle was deel van die aanbod van ‘n aantal top Bonsmaras by die agste Prestige Bonsmara-veiling wat Saterdag, 8 September by GWK se veilingkrale op Herold aangebied is.
Nic Serfontein van Sernick Bonsmaras van Edenville in die Vrystaat het R80 000 vir die duurste bul uit Mikey du Toit van Swartshoek Bonsmaras van Humansdorp betaal.
Justin Stirk van Goodwoods Bonsmaras in die Port Alfred/Grahamstowngebied in die Oos-Kaap het R65 000 betaal vir die tweede duurste bul, wat ook uit die Swartshoek Bonsmarastoet kom.
Altesaam 17 bulle is teen ‘n gemiddelde prys van R44 941 van die hand gesit. Altesaam 42 dragtige koeie is teen gemiddeld R15 623 verkoop, vyf koei-en-kalf-kombinasies is teen gemiddeld R15 780 verkoop, en 28 oop verse is teen gemiddeld R11 642 verkoop.
Die stoetbulle is aangebied deur lede van die Suid-Kaap Bonsmaraklub Mikey du Toit, Ockie Potgieter van Letterkrans Bonsmarastoet van Kruisrivier naby Calitzdorp, Lourens Eales van Ruiterbos Bonsmaras by Mosselbaai en Eugene Louw van Jubilee Bonsmaras van Swellendam.
Al die Bonsmara-stoetbulle wat op die veiling aangebied is, is geregistreer by SA Stamboek, het prestasietoetsing ondergaan en het al die sementoetse geslaag. Die bulle is vooraf goedgekeur deur Bonsmara-keurders en vertoon die B-brandmerk op die regterskouer as waarmerk van hul gehalte.
Kontak Ockie Potgieter (082 776 3730) vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'