MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaaise rockgroep, Van Konings is tans besig met 'n nuwe musiekvideo. Volgens die sanger en liedjieskrywer van die groep, Leon van Rensburg, 'n bekende brander- en duineplankryer, is daar heelwat verwikkelinge wat die groep se bedrywighede betref.
"Ons sien uit daarna om eersdaags 'n uitvoerproduk van Mosselbaai te wees. Al die groep se lede is lief vir Mosselbaai. Daar is tans so baie goeie musikante in Mosselbaai, maar hulle word nooit raakgesien nie. Hopelik kan ons 'n fondasie lê sodat die res van die land ook Mosselbaai se talent leer ken," meen Leon.
Die groep het verlede naweek verfilm aan hulle musiekvideo vir 'n nuwe snit met die naam Lost. Van die tonele is in die Knysna-omgewing geskiet, waar brande in Junie vanjaar verwoesting gesaai het.
Van Konings het in 2015 ook 'n besonderse projek aangepak toe hulle 'n lied wat deur Leon vir een van sy broers geskryf is, laat verfilm het. Leon en sy jonger broer, Morné het die lied, Oggend Son in November 2014 op die troue van hulle ouboet Anton met sy liefde van 22 jaar, Annemarie, gesing. Gou is daar besluit, dat hierdie lied wat Anton en Annemarie se liefde so gepas vier, beslis potensiaal het. Die lirieke is effe aangepas en in Junie 2015 opgeneem, waarna die musiekvideo gemaak is.
Leon verduidelik dat Van Konings aan 'n album werk, maar dat die lirieke hiervan al jare gelede geskryf. "Die Engelse songs het ek lankal klaar geskryf. Daar is ook Afrikaanse liedjies. Ons doen dit vir die lekker en omdat ons passievol oor musiek is."
Wessel van Heerden, tans verbonde aan die Mossel Bay Advertiser se susterkoerant, die George Herald het Oggend Son se musiekvideo geskiet en is ook by die Lost-projek betrokke. Leon sê dat Van Konings se musiek 'n dieper inslag het en 'n storie vertel wat mense aan die dink moet sit.
Die musiekvideo sal na verwagting binne die volgende twee weke voltooi wees.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'