Met 'n wye verskeidenheid items, wat gewissel het van sang, klaviermusiek en kitaarspel, tot dansitems, karate-katas en spoedverfsessies, het die deelnemers die gehoor beslis op die rand van hulle sitplekke gehou. Die hoofseun en hoofdogter, Evan Abrahams en Sumaré Prinsloo, het as seremoniemeesters opgetree. Die deelnemers het elkeen 'n uitstekende vertoning gelewer in hulle verskillende items, en die beoordeelaars moes behoorlik kopkrap om die bestes uit te kies.
Die derde prys van R300 het gegaan aan die belowende sanger en kitaarspeler, JP Delport. Carla Neto het met die tweede prys, 'n bedrag van R600, weggestap nadat sy die gehoor se asems weggeslaan het met 'n uitstekende karate-aanbieding (en die indrukwekkende middeldeur-klowing van 'n stapel sementbladjies).
Die wenners van die eerste prys van R1 000 was twee persone wat reeds gewildheid oor die jare onder die skoolleerders verwerf het as die Beste 'beatbox'–duo in die Suid-Kaap: Nathan de Nobrega en Siya Mahlangu – saam bekend as Insomnia.
Tussendeur die dawerende applous wat elke deelnemer welverdiend ontvang het, was die gevoel van trots teenoor die leerders van Punt in die kultuurliefhebbers van Mosselbaai duidelik te sien in hulle ingenome en vrolike luim.
Hoërskool Punt se talentaand was, soos na verwag, weer eens 'n onvergeetlike geleentheid, en dié wat dit hierdie jaar misgeloop het, kan gerus die datum vir volgende jaar se Puntalent in hulle dagboeke aanteken!
Die derde prys het gegaan aan die belowende sanger en kitaarspeler, JP Delport.
Insomnia: Nathan de Nobrega en Siya Mahlangu.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'