MOSSELBAAI NUUS - Dit was behoorlik ligte, kamera en op die koop toe baie aksie vir 'n groep plaaslike akteurs en modelle wat deelgeneem het aan die verfilming van die nuwe fliek, Thys & Trix, wat by Pinnacle Point geskiet is. Verfilming het vroeër vandeesweek ten einde geloop.
Hierdie aksie-komedie van The Film Factory, met glansegpaar Bouwer Bosch en Leandie du Randt in die titelrolle, word in April 2018 vrygestel. Fotograaf en talentagentskapeienaar, Frieda van der Walt het 150 ekstras op versoek van die produskiemaatskappy verskaf.
"Ek was verskriklik opgewonde, maar ook 'n bietjie bang. Dit was die heel eerste keer wat ek en my agentskap by so iets betrokke was."
Sy was wel voorheen betrokke by die maak van advertensies op heelwat kleiners skaal, maar dit was nog altyd een van haar drome om by die filmwêreld betrokke te wees.
Vir haar was dit 'n belewenis om te sien hoe die produksiespan saamwerk. "Dit was nogal stresvol, maar op die stel het almal maar spanning en dramas gehad."Sy het dit baie geniet om saam met die projekkoördineerder die korrekte profiele uit die lêers te selekteer en om te kon beleef hoe die akteurs in hulle gekose rolle floreer.
"Dit was 'n leersame ervaring. Ek het geleer dat enige groot en magtige masjien uit 'n magdom klein en belangrike ratte bestaan. Maak nie saak hoe klein en onbelangrik jy mag dink jou bydrae is nie, sonder daardie bydrae kan die eindresultaat nie moontlik wees nie."
Nuwe geleenthede
Een van die ekstras, 'n bekende gesig as deel van die bestuur van die Santos-treinrestuarant, Sam Kannemeyer sê sy rol in die fliek het begin by tafels afdek soos 'n kelner en uiteindelik was hy 'n polisieman wat deel was van 'n bedekte operasie. "Ek het 'n rewolver gehad en moes pretend ek skiet op mense."
Sy tyd op stel beskryf hy as 'n ongelooflike vier dae. Hy sê hy het baie geleer. "Ek het geleer hoe 'n mens act sonder om 'n woord te sê, net jou gesig te gebruik."
Hy sonder geen akteur uit as 'n gunsteling nie en ook nie spesifieke oomblikke op stel nie. Volgens hom was die akteurs almal baie plat op die aarde en het selfs vir hulle byname begin gee.
"Alles was vir my lekker." Behalwe, sê hy, die oor en oor herhaal van tonele totdat die regisseur met die produk tevrede is.
"Ek was skoon hartseer toe ek die stel moes verlaat." Sam se storie wat deelname aan die produksie betref, het egter vir hom 'n baie gelukkige einde.
Van die modelle op stel het hom verwys na 'n agentskap vir wie hy eersdaags op die loopplank sal uitstap.
"Soos ek altyd sê - the curtains are up, and the show must go on."
Die groep ekstras grotendeels uit Mosselbaai wat aan die verfilming van die aksie-komedie, Thys & Trix deelgeneem het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'