Video
MOSSELBAAI VERMAAKNUUS EN VIDEO - Die alombekende Lang Vrou, Petronel Baard van Mosselbaai gaan op Maandag, 3 April om 18:30 saam met die Suid-Kaap Kinderkoor by die Klein Karoo Kunstefees (KKNK) te sien wees.
Petronel se 'n Blom in Elke Vrou-produksie gaan saam met haar orkes bestaande uit Franco Engelbrecht, Lelané van der Merwe en Johan Engelbrecht en die Kinderkoor eenmalig by die ABSA Burgersentrum in Oudtshoorn aangebied word.
'n Blom in Elke Vrou is gebaseer op die lewe en skryfwerk van Mardene Marais in wie se nagedagtenis Cordis Trust, hul hoofborg, begin is.
Die musiek is toonsettings en oorspronklike werk uit Petronel se pen waaraan sy oor 22 jaar gewerk het en in dié vertoning bymekaar bring.
Inspirasie vir blomme tema
Petronel vertel dat insae oor inheemse en seisoenale plantegroei versamel is van die tuinboukundiges Ernst van Jaarsveld en Madine Swart se boek Flora se Geheime Taal.
"Ek het ook vele gesprekke met die plantaktivis, Jan Odendaal van Green4LifeSA, en Alta Scott van Deur die Blare Floral Art gehad."
Uitsonderlike kunswerke wat vrouwees en die plaaslike plantegroei in kuns verteenwoordig, sal deur Janet Dixon van ArtKaroo gaan by die uitvoering uitgestal word.
VIDEO - Petronel Baard en die Suid-Kaap Kinderkoor oefen saam voor hul optrede by die KKNK op 3 April:
Burgemeestersbesoek
Petronel het onlangs by die burgemeester van die Mosselbaai-munisipaliteit, raadsheer Dirk Kotzé, gaan besoek aflê. Kotzé het die volgende op sy Facebookblad geplaas.
"Baard het deur die jare groot werk in terme van kunste-ontwikkeling in die Suid-Kaap en veral op Mosselbaai gedoen. Sy is deel van die stukrag agter Mossel Bay Creative Cultures Association ( MOCCA), 'n kunsteplatform vir uitvoerende, beeldende asook woordkunstenaars.
"Baard het met haar besoek aan my kantoor verduidelik dat die produksie 'n Blom in Elke Vrou, 'n lig-klassieke, musikale en digterlike reis is, wat ons identiteit in Afrika aan die hand van ons inheemse plantegroei ondersoek."
Kotzé vervolg dat nog 'n Mosselbaaier, die blomkunstenaar en sakevrou Alta Scott van Deur die Blare wat in 2022 met die Afriforum Tinteltong-toekenning bekroon is, die blomkrone maak wat Baard in die produksie dra. "Ons moedig Mosselbaaiers aan om hierdie ikoniese produksie by die KKNK te gaan ondersteun."
Die vertoning word eenmalig op Maandag, 3 April, om 18:30 aangebied. Kaartjies is beskikbaar teen R150 per persoon, R165 by die deur. Vriende van die KKNK betaal slegs R140 vir 'n kaartjie.
Meer inligting is beskikbaar by Lang Vrou Produksies op www.kknk.co.za.
Petronel Baard, Johan Engelbrecht, Lelané van der Merwe en Franco Engelbrecht wat saam by die KKNK gaan optree in die Blom in Elke Vrou opvoering.
Die Suid-Kaap Kinderkoor besig met die verfilming van 'n Blom in Elke Vrou musiekvideo bo-op die Robertsonpas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'