Die aand was 'n reuse sukses met Christelike- en lekkerluisterliedjies wat die gehoor gaande gehad het. Die liedjies van die jongste album het groot byval gevind, en die goue oues het oud en jonk uit hul stoele gehad terwyl hulle ritmies op die maat van die ritmiese klanke saam gedans het.
Gou het Bobby almal aan die sing gehad, en toe die vinnige rock-nommers gespeel is, was daar geen keer aan die gehoor se deelname nie.
Eie aan die mens wat hy is, het sy nederigheid en Christelike waardes geblyk in sy keuse van liedjies. Sy gewilde liedjie 'Net vir jou' het vir baie 'n knop in die keel gebring, terwyl sy weergawe van 'My Berg, Sion' wat hy vir sy eersteling seun geskryf het, die sanger se oë laat glinster het. Die nuus dat sy vrou, Annatjie, 'n tweede seuntjie verwag was veral vir die ouma's in die gehoor sommer goeie nuus.
Bobby en sy orkes van vier musikante se optrede is voorafgegaan deur 'n gas-optrede van die gewilde Mosselbaaier, Gousie, wat al te oulik sy boudjies op die maat van sy gelyknamige liedjie geswaai het. Die dansers van die Dynamic Dance Academy het ook met hul danspassies beïndruk.
Na die vertoning het 'n elle-lange ry gevorm van aanhangers wat geduldig gewag het vir 'n handtekening van hulle held. Eweneens het Bobby met groot geduld sy ondersteuners se albums onderteken en vir foto's geposeer. Ten spyte van 'n lekker lang vertoning, het die sanger met deernis honderde handtekeninge uitgedeel terwyl hy vir elkeeen 'n spesiale glimlaggie gehad het. Bobby het selfs ingespring en steeks kameras se nukke uitgesorteer sodat jong ondersteuners nie teleurgestel moet word nie. Een van sy grootste aanhangers, Lourensia Reichert, het selfs 'n soentjie by haar held ontvang.
Bobby se besoek aan Mosselbaai was die toedoen van 'n jong Mosselbaaise entrepreneur, die promotor Eduard Hugo van Extreme Functions.
Besoek gerus die gallery op die Mossel Bay Advertiser se webblad by www.mosselbayadvertiser.com vir meer foto's van hierdie vertoning.

Mosselbaai se jong entrepreneur, promotor en die eienaar van Xtreme Functions, Eduard Hugo, het na afloop van Bobby van Jaarsveld se vertoning in die Mosselbaai Stadsaal oudergewoonte sy gaskunstenaar van sy voete af gehad, tot groot vermaak van Suid-Afrika se eie 'Liefling'.Dansers van die Dynamic Dance Studio het in 'n kort voorvertoning met hul passies beïndruk.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTIER-JOERNALIS