Ten spyte van haar twee linkervoete, staan die saak geheel anders met haar twee seuns, Dylan (20) en Luciano (16), wat tydens vanjaar se Mossel Bay's Got Talent-kompetisie, die eerste wenners van die Best of the Rest-aanmoedigingsprys ter waarde van R5000 was.
Volgens die trotse ma, dans die twee glo van kleintyd af al so saam. "Saans as ek tuiskom van die werk af, is die twee altyd doenig met musiek en danse uitwerk," vertel sy.
Dit was die broederlike danspaar se eerste kompetisie en skynbaar was hulle pa, Johannes, aanvanklik bietjie skepties oor die 'dansery', maar sedert hy hulle tydens die semi-finale in die Bravo Lounge vir die eerste keer behoorlik sien optree het, is hy nou amper hulle getrouste aanhanger.
Dylan vertel skamerig dat hulle glad nie verwag het om te wen nie. Met sy passie vir dans, is Dylan verantwoordelik vir meeste van die choreogrpafie, terwyl kleinboet Luciano gewillig volg.As jy vra of hulle baklei, dan lag die twee te lekker en Dylan antwoord ewe kontant, "Nie meer nie!"
Die naam ASAP Crew kom daarvandaan dat die twee manne nie graag voete sleep nie. 'As soon as possible' - dis hoe vinnig hulle dinge 'maak gebeur'.
"Dit verwys na hoe ons vinnig ons 'n dans aanmekaar kan slaan, maar ook hoe vinnig ons graag positiewe verandering in ons omgewing wil sien."
Dylan sê dat die Amerikaanse groep Periodics vir hulle 'n groot inspirasie is.
"Ons het hulle dopgehou en gedink – 'Ons kan dit ook mos doen'," vertel Dylan, "maar ons het ons eie styl hieruit ontwikkel, wat sommer 'n groot verskeidenheid dansstyle insluit."
Volgens Brenda, dra die twee broers dikwels 'n geestlike boodskap oor tydens hulle optredes. "Vir ons is die wonderlikste uiteinde van hierdie kompetisie om te kon sien hoe ons hele familie ons as 'n eenheid ondersteun," sê Dylan.
Selfs Brenda se werkgewer, EsméHurter, het die twee dansers se spesiale T-hemde geborg.
En die toekoms? "Ons wil 'n dansgroep begin en jonger kinders leer hoe lekker 'n mens jouself met dans kan besig hou," glimlag Dylan.

Die ASAP Crew in aksie tydens die finale rondte van Moseel Bay's Got Talent-kompetisie. Hulle is die wenners van die Best of the Rest-prys. Foto: Marius van Vuuren
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'