Video
MOSSELBAAI VERMAAKNUUS EN VIDEO - 'n Groep uitgenooide gaste het die voorreg gehad om Saterdagaand, 6 Julie die eerstes te wees om bekroonde hip hop-kunstenaar Jerome Rex se nuwe musiekvideo, Ek Sal te siene te kry.
Die bekende Suid-Kaapse hip hop-kunstenaar en woordsmit, Hakkiesdraad Hartman het hierdie snit saam met Rex die lig laat sien nadat hulle twee hulle kreatiewe kragte saamgesnoer het.
Die bekendstelling wat by die Monroe Teater gehou is, is een van slegs twee in die Wes-Kaap, waarvan die volgende in Kaapstad sal plaasvind. As deel van die bekendstellingsgeleentheid, het die twee kunstenaars ook gedurende die naweek tydens radio-onderhoude opgetree om oor hulle musiek te gesels.
Tydens die bekendstelling, het verskeie gaskunstenaars uit die Suid-Kaap opgetree, waaronder Mosselbaai se Shaun Pluto, voorheen 'n wenner van Mossel Bay's Got Talent. 'n Lewendige en inspirerende gesprek oor Afrikaans is tydens die geleentheid gevoer. Rex en Hartman is dit eens dat hulle musiek ten doel het om verskillende genres te vermeng en daardeur hulle luisteraarsgehoor te verbreed. Hulle meen ook dat hulle musiek ten doel het om deur middel van goeie lirieke 'n positiewe bydrae tot die musiekwêreld asook die samelewing te lewer.
Die twee musikante is reeds betrokke by wat hulle noem Park Jams en Expression Sessions, platforms wat landwyd geskep word vir die bevordering van kreatiwiteit in die uitvoerende kunstewêreld, veral hip hop-musiek.
Kyk 'n video hieronder:
Kletsrymer, Shaun Pluto in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'