Op Saterdag, 16 Junie is die wenners van die totale prysgeld van R30 000, wat in die kategorieë dans, sang en kletspraat (rap) toegeken word, aangewys.
Tonne talent
Wanneer dit by talent kom, praat die beoordelaars uit een mond.
"It was impossible to choose the top three, so we had to share the prize money in the dance section," vertel Angeline Mynhardt van Angeline's Hip Hop-dansskool, wat sedert 2009 as beoordelaar in die kompetisie optree.
Beoordelaar Eugene Kiewiet, bekend vir sy uitnemendheid in die musiekbedryf, beaam dit: "Vanjaar se kompetisie was groot en intens. Ek staan verstom oor die hoeveelheid 'superstar'-talent wat opgelewer is," sê hy.
"The contestants were amazing," sê Vuyolwethu Mfumbe, jeugontwikkelaar en vorige Mnr Wes-Kaap, "Mossel Bay's stars shone brightly during the competition."
Linda Saayman en Setchmor Rhodes, organiseerders van die kompetisie, gebruik woorde soos 'onbeskryflik en fantasties'.
Die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira, het tydens haar toespraak na die kompetisie verwys as 'n wenresep, aangesien die kompetisie reeds in sy derde bestaansjaar is, groeiende deelnemergetalle toon, aan jongmense die geleentheid gee om hulle Godgegewe talent te kan gebruik en daarmee te kan woeker. Sy het met trots verwys na die talentvolle jongmense uit Mosselbaai wat hulle reeds op streeks- en nasionale vlak onderskei het en is van opinie dat daar sommer nog baie talent is wat ontgin kan word.
Talent as teenvoeter
Een van die belangrike oogmerke van die kompetisie is om te dien as teenvoeter vir problematiese sosiale kwessies soos geweld, tienerswangerskappe, bende-aktiwiteite, dwelmmisbruik en MIV/VIGS. Raadsdame Ferreira het 'n ernstige pleidooi teenoor jongmense gemaak om deeglik oor hulle keuses te besin.
"In die lewe is daar net een pad om te loop wat die moeite werd is, en dit is die reguit pad. Dit mag dalk nie altyd die maklikste wees nie, of bied moontlik ook nie die 'opwinding' wat van jou ander maats oënskynlik het nie. Dit sal egter ook nie die risiko's inhou wat die maats het om hul lewens te verwoes nie," het sy gesê.
Tydens die hartroerende openingseremonie van die finaal, het die top 21 finaliste die teenvoeter vir sosiale kwessies wat maai onder die jeug uitgebeeld. Onder die bekwame leiding van plaaslike kunstenaar James Malgas, is hierdie kwessies baie treffend deur middel van straat- en sypaadjiekuns in die Stadsaal se parkeerarewa uitgebeeld. Later het al die kinders buitekant saamgeteken. Dit was hartroerend om te sien, vertel Setchmor Rhodes.
Aan lof vir die organisering van die kompetisie is daar ook nie tekort nie.
"I have nothing but praise for the organisers and crew," sê Angeline Mynhardt.
Eugene Kiewiet meen dat Mosselbaai met hierdie kompetisie werklik die toon aangee in die Eden-distrik.
Elvin Joseph, 'n ouer van een van die wenners, loof veral die gepaste afsluiting wat op Sondag, 17 Junie gehou is, aangesien dit die Christelike waardes waarmee hy sy kinders opvoed, ondersteun.
Wat sê die wenners?
Chelsea Wales, 'n leerder van Hoërskool Sao Bras, wenner van die sang-kategorie, sê, "Ek is nog steeds geskok na Saterdag"
Chelsea, 'n groot bewonderaar van Christina Aguilera, sê sang is vir haar net 'n stokperdjie en sy wil eerder verder studeer as om 'n sangloopbaan na te jaag. Sy beskou die prysgeld as 'n welkome neseiertjie vir haar studies.
Wilmar Olivier van die kletspraatgroep Real Dogs uit Uitbreiding Agt sê, "Ons het maar net ons beste gegee."
Die groep bestaan al ongeveer twee jaar en 'rap' net in Arikaans. Hulle skryf al hulle li-rieke, wat juis die sosiale kwessies en vraag-stukke aanspreek, self.
"Ons wil hê ons musiek moet mense help om los te kom van dinge wat hulle terughou, sodat ons hulle kan help om beter te leef. Nie een van ons rook of drink nie," sê hy.
Die groep gaan hulle geld gebruik om klanktoerusting aan te skaf.
"En ons wil graag iets vir ons ouers ook gee, want dis hulle wat ons gehelp het om te kom waar ons is," sê Wiilmar.
In die dans-kategorie, is twee wenners aangewys: Priceless van Mosselbaai en die UKB's van Groot Brak.
Royden Deysel van die UKB's sê dat die sewe manne in sy groep nie kan ophou praat oor die wennery en die kompetisie nie. "Ons het nog nooit 'n kompetisie gewen nie."
Royden vertel dat die groep, bestaande uit seuns en jongmans tussen 12-21 jaar, sommer in die erf buite sy ouerhuis oefen.
"Daar is altyd 'n 'audience'," lag hy. "Ons was 'confident', maar daai meisies van Priceless het dit, hoor!"
Robin-Leigh Joseph van Priceless sê weer dat alhoewel hulle groep die sogenaamde voordeel daarvan gehad het dat hulle formele dansopleiding kry, het hulle gou gesien hoe talentvol die UKB's is.
"Dit was vir my 'n wonderlike ervaring om te besef hoeveel talent daar rondom ons is. Ek het gou besef ons kan nie doen wat daardie ouens doen nie, selfs al oefen ons in 'n studio. Hulle is goed, hoor!"
Robin-Leigh praat reeds van 'n gesamentlike optrede met die UKB's. Beide dansgroepe dink daaraan om hulle prysgeld in vertonings in te ploeg, wat gehou sal word om fondse in te samel.
Talent en die toekoms
Hierdie beplande samewerking illustreer Eugene Kiewiet se kommentaar dat 'n weder-syde waardering vir mekaar se talent uit hierdie kompetisie gebore is.
"Mossel Bay's Got Talent is more than a mere competition - it's a journey of hope. The competition has really encouraged the youth to rise above their circumstances and reach for their dreams," sê Angeline Mynhardt.
"This year, kids from all backgrounds and cultures had a shot at fame. It was amazing to see kids in a broken world still wanting to spread a positive message. I'm glad to be part of the change in Mossel Bay."
NOG FOTO'S HIER.

FOTO'S: Sound Photographer, Setchmor Rhodes, Michelle Coetzee
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS