MOSSELBAAI NUUS - In Mei 2023 is Petronel Baard gevra om musiek met die tema, Broadway, op te stel, en sy het die vertoning, Ek het jou onthou, geskep.
Konsertreeks
Die Mosselbaai Kunstevereniging is verheug om hul 2024-konsertreeks met dié vertoning af te skop.
Met haar navorsing is Petronel teruggevoer na haar jeug en het sy weer eens besef hoe belangrik musiek is. Dit help nie net om jou te vorm nie, maar passie, selfs geloof word geraak met die aanhoor daarvan, wat ons lewenslank sal bybly.
Dit help om onsself, ons kinder- en jeugdrome te onthou en miskien, opnuut as bemoedigend te ervaar.
Reis deur die seisoene
Daarom neem sy jou soos altyd op reis deur die seisoene van die lewe, om saam met ‘n paar interessante feite oor die geskiedenis van Broadway uit te vind hoe ook jou geskiedenis en lewenservaring vervleg is in die spore van kreatiwiteit om ons.
Kom, word betower met die klanke van Sound of Music, My fair Lady, Cats en vele meer.
Kom verstaan saam met haar die invloed van die kunste op elkeen van ons. Met ‘n lag en ‘n traan terselfdertyd is vrolike stories nooit te ver nie en met pragtige, diep emosionele sang daarby deur dié sanger en musikant neem sy jou op 'n onvergeetlike reis.
Don’t cry for me Argentina, Memories, Send in the clowns en selfs Edelweiss is net enkele van die musieksnitte wat Petronel met oorgawe uitvoer met dié pragtige vertoning.
Dias Museum
Ek het jou onthou vind in die Dias Museum plaas op Donderdag, 1 Februarie. Kaartjies kos R150 vir lede en R180 vir nie-lede. Kaartjies kan per WhatsApp bespreek word by 064 963 9962. Die deure open 18:00 en die konsert begin om 19:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’