MOSSELBAAI NUUS - Op groot publieke aanvraag bied ArtSpace weer eens die baie gewilde produksie, Perhaps Love… aan. Slegs een vertoning word beplan wat op Vrydag, 25 Oktober om 19:30 in die Dias Museum plaasvind. Deure open om 18:00.
Kom ervaar hoe Cornelle Carstens met meesterlike talent en vernuf die liefdesintriges en soms verskanste feite van welbekende Suid-Afrikaners in 'n lewendige, maar respekvolle, styl laat herleef.
Van Issie Smuts se onwrikbare onderskraging van haar geliefde Jan; Ingrid Jonker se huppelliefdes met Jack Cope en André Brink; hoe Koos en Nonnie de la Rey se liefde 'n oorlog oorleef het; die briljante Eugène Marais en sy Lettie Beyers, tot die elegante dr AG Visser en Marie de Villiers.
Abé Meintjes (sang en kitaar) en Mariaan Bester (tjello) sal gewilde, immergroen ballades wat spesiaal vir die konsert uitgesoek is, aanbied. Onder andere sal 'n getoonsette brief van Ingrid Jonker aan André Brink, 'n Hemel Vol Blou Akkers, deel uitmaak van hierdie onmisbare konsert.
Kaartjies teen R100 vir volwassenes en R30 vir skoliere is by die Espresso Spot, geleë in die Dias Museum, beskikbaar van Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 15:00. Verdere inligting is beskikbaar by Abé Meintjes (083 268 3718).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroetenuus'