Ten einde die oorweldigende belangstelling in hierdie gebeurtenis te akkommodeer, het die viering in die saal by Groenkloof Aftree-oord op Groot-Brakrivier plaasgevind.
Bykans 90 belangstellendes van oral uit die Suid-Kaap het die huldiging met groot entoesiasme en belangstelling bygewoon. Dit was ‘n klinkklare blyk van die geweldige gewildheid van hierdie merkwaardige digter en literator en die agting en waardering waarmee die algemene lesende publiek hom bejeen.
Die huldiging is met styl en grasie deur die leeskring aangebied, wat groot plesier verskaf het vir almal wat die moeite gedoen het om die geleentheid by te woon. Selfs die reënweer kon nie ‘n demper op dié roerende belewenis plaas nie.
Toe prof Cloete deur die voorsitter van die leeskring, Etty Bosman, voorgestel is, het hy ‘n staande ovasie van die bewonderende gehoor ontvang. Daar was etlike van sy oud-studente onder die gehoor, wat van sy grootste aanhangers is.
Gedigte van die digter is deur Kristie Herbst op haar kenmerkend professionele, nimlike en roerende manier voorgedra, terwyl die digter self ook enkele van sy gedigte voorgelees en toegelig het. Hy het rondom sy digwerk gepraat op roerende en soms vermaaklike wyse. Tussenspel van pragtige klaviermusiek deur die pianis Helianthe Smit het meegehelp om die gepaste stemming vir die middag te skep.
TT Cloete is onteenseglik een van die merkwaardigste figure op die Afrikaanse literêre toneel. As literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalmdigter het hy sy merk gemaak op literêre gebied en ‘n reputasie opgebou wat steeds groei.
Nieteenstaande sy 90 lewensjare, is hy steeds aktief op die literêre front en groei sy aanhang en gewildheid steeds, veral onder poësieliefhebbers, maar ook onder lesers in die algemeen. Een van die lede van die leeskring, Marianne van der Lecq, het hom op roerende wyse bedank waarmee die verrigtinge afgesluit is. ‘n Gebeurtenis wat lank en met deernis onthou sal word deur die aanwesiges.

Helianthe Smit het die stemmingsmusiek vir die middag gespeel. Foto's: Anton Gericke
ARTIKEL: ANDRE ARNOLDI
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'