MOSSELBAAI NUUS - Petronel Baard of die Langvrou soos baie haar ken, se naam lok gehore na dorpsgeleenthede, maar dit is net die sigbare deeltjie van wat hierdie rooikopvrou met die groot hart vir die kunste in die streek doen.
Oorspronklik van Villersdorp, het sy gaan draai as die wenner van die gesogte ATKV Crescendo-prys. Maar vir dié rooikop-diva is haar hartklop nog altyd kunste-ontwikkeling gewees - om vir ander 'n weg te baan tot op die verhoog en selfs verder.
Vir die afgelope paar jaar reeds is Petronel nou betrokke by die ontwikkeling van plaaslike talent. Deesdae arbei sy met groot ywer as die voorsitter van die Mosselbaai Kreatiewe Kulture-assosiasie (MOKKA) om vir plaaslike kunstenaars, nie net optreegeleenthede te skep nie, maar ook gesonder kruis-kulturele verhoudings en bestuiwing in die kunste te bewerkstellig.
In die afgelope paar jaar, was MOKKA nou betrokke by dorpsfeeste soos die Diasfees, Tarka Straatfees, Erfenisdagvieringe asook die onlangse Kwêla Dorp van die Jaar-vieringe.
Siel gevind
Baie water het in die see geloop sedert Petronel in 2004 by die destydse Vaaljapie-restaurant op Klein-Brakrivier, die Teater Kafee-konsep gevestig het. Sy sê "sy vind haar siel tussen Klein Brak, die maan en die sterre".
"Ons kunstenaars reis mos deur die land, maar ons settle waar ons siele gevoed word." Petronel glo dat ekonomiese ontwikkeling op die platteland deur die kunste bewerkstellig kan word, vandaar die uitbreiding van die Teater Kafee-konsep ook na venues in George. Soos van die venues eienaars verwissel het, het uitdagings aan die konsep gebied.
Ten spyte daarvan dat haar weg gebaan was na 'n kommersiële loopbaan, het die helende, terapeutiese aard van kabaret haar bly lok. "Ek is aangetrokke tot die gemeenskapsbou-element van kabaret. Die politiek in die kommersiële bedryf het my 'n alternatiewe pad laat kies."
Deur hierdie alternatiewe pad, glo sy, skep sy meer en beter geleenthede vir ander kunstenaars
Nuwe album
Petronel het sopas haar jongste album, Die Heelal Draai bekendgestel en vertrek vandeesweek op toer daarmee deur die Noord-Kaap, Vrystaat en Gauteng. Na 'n ernstige motorongeluk in 2010, sê sy, het haar "bewussyn oor die lewe verander".
"Met hierdie album is dit die eerste keer dat melodie en woorde saam gebeur. Die album se musiek is getrou aan my klank - my klavier en stem. Dis hoe ek klink, dis die klank wat uit my kom. Dis die musiek wat ek vir my pa gemaak het as hy braai." Petronel het die album aan haar oorlede pa, Bertie opgedra.
Sy beskryf die album, opgeneem deur Phillip Pels en African Sun Studios, as "nie hoofstroom, maar baie luisterbaar". Medewerkers was Schalk (Soetmelk) Maas, met wie sy al 'n lang pad kom, asook die nimlike Boesman Keyser, Altan Ungerer, André Janse van Rensburg, David en Hanli Cruikshank.
En die naam? "Die Heelal Draai...dinge kom in plek, al voel dit nie so nie. Dinge gebeur as jy jou oorgee aan jouself. Luister net na jou eie stem. Daai dinge wat die note gee." Die album is aanlyn beskikbaar by CD Baby en ook op iTunes.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'