MOSSELBAAI NUUS - Op Donderdag, 17 Maart bied die Mosselbaai Kunstevereniging 'n konsert deur twee gesogte klassieke musikante uit Duitsland.
Die Karlsruhe Konzert-Duo, bestaan uit die uiters talentvolle en gewilde Reinhard Armleder op tjello en Dagmar Hartmann op klavier.
Die duo bestaan sedert 1998 en het al talle internasionale toekennings ontvang vir hulle bekoorlike interpretasies, briljante tegniek en verbeeldingryke programme.
Dit beloof om ’n heerlike konsert te wees met ’n goed-gebalanseerde program van wisselende intensiteit met werke van Beethoven, Schumann, Strauss en Gershwin.
Besprekings, teen R150 per persoon, R130 vir lede van die Mosselbaai Kunstevereniging en R30 vir skoliere is noodsaaklik. Bespreek by 064 963 9962.
Die konsert vind by die Dias Museum plaas en begin 19:30. Deure open 18:30.
Ten spyte van twee jaar se verlammende pandemies, het die musiekvereniging dit nogtans reggekry om heelwat suksesvolle vertonings te kon aanbied - wat so ’n bietjie sielsverligting in die donker maande gebied het.
Van die musiekaanbiedinge wat nog voorlê in 2022 is Charl du Plessis saam met die Odeion Strykkwartet wanneer hulle musiekliefhebbers gaan oorrompel met Brahms.
Ander groot nuus is dat daar planne is om die Kaapse Operakoor later vanjaar in Mosselbaai te verwelkom.
Bekende name wat ook op die musiekkalender ’n draai gaan maak sluit Niël Rademan, Elna van der Merwe, Piet de Beer, James Grace, David Bester, Adam Campbell, Peter Cartwright en Jonathan Moolman in.
En dan, vir die kersie op die koek, sal ’n baie spesiale konsert met uitstaande plaaslike klassieke musikante die 2022-musiekseisoen afsluit. Vir liefhebbers van kwaliteitmusiek wat grootstad-konserte in Mosselbaai waardeer, is dit gewis voorderlig om by die kunstevereniging aan te sluit en gebruik te maak van die kaartjie-afslag wat aan lede gegun word.
Lidmaatskap, teen R150 per persoon vir die jaar, kan tydens die konsert bekom word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'