MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit soek aktief na geleenthede wat bydra tot die stimulering van die plaaslike ekonomie. In die lig hiervan, onderskryf en ondersteun die munisipaliteit graag inisiatiewe uit die gemeenskap ten einde uitvoering te gee aan die GROEI-strategie.
Die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees het sowat 10 jaar gelede sy beslag gekry. In 2022, nadat dit vir twee jaar deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery is, het die fees oor 'n rekordtydperk van ses weke gestrek.
Die fees het verlede jaar verskeie nasionale sportbyeenkomste en -kompetisies na Mosselbaai gelok en 'n platform vir nagenoeg 50 sportkodes gebied.
Tydens hierdie fees, bied die munisipaliteit sy sportfasiliteite gratis aan die sportgemeenskap en bied hulle ook ondersteuning in terme van die bemarking van die fees.
Die Mosselbaai Eisteddfod, is verlede jaar vir die 14de keer aangebied en het 'n rekord aantal inskrywings, veral wat kore betref, ontvang. Die Mosselbaai Eisteddfod is aanvanklik deur die Mosselbaai Kunstevereniging in die lewe groep, maar is verlede jaar deur ArtSpace oorgeneem.
Vertrekpunt
Tydens 'n produktiewe gesprek tussen die uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé, die direkteur van gemeenskapsdiente, Elize Nel en ArtSpace se Abé Meintjes en Jeanne Pienaar, is daar die moontlikheid bespreek om met die Mosselbaai Eisteddfod as vertrekpunt, 'n uitgebreide kunstefees soortgelyk aan die sport- en rekreasiefees, in Mosselbaai aan te bied.
Soos met die sport- en rekreasiefees, sal die Mosselbaai-munisipaliteit ondersteuning bied deur hul fasiliteite gratis beskikbaar te stel en die fees dienooreenkomstig te bemark.
Dit word in die vooruitsig gestel dat die Mosselbaai-munisipaliteit se talentsoektog, Mossel Bay's Got Talent, in die toekoms as deel van die beplande kunstefees sal herleef.
Die burgemeester, raadsheer Kotzé het vanweë sy groot liefde vir koorsang, aangedui dat 'n koorfees as deel van die groter kunstefees 'n groot aanwins vir die dorp sal wees. Insgelyks, kan ander bestaande geleenthede wat die kunste betref ook by die fees inskakel.
Pienaar en Meintjes het bevestig dat die prospektus vir vanjaar se eisteddfod reeds beskikbaar is.
Die danskategorie van die Mosselbaai Eisteddfod vind reeds in Meimaand plaas, met die ander genres vanaf Julie tot Augustus. Die gala-aand word op 27 Augustus aangebied.
Alle inskrywings sal aanlyn verwerk word en die inskrywingsbesonderhede sal teen die begin van die tweede skoolkwartaal in April op die Mosselbaai Eisteddfod Facebook-blad gepubliseer word. Indien onderwysers/deelnemers vooraf navrae het, is hulle welkom om Abé by 083 268 3718 te kontak.
Beplanningsvergadering
Deelnemende organisasies wat graag by die fees sou wou inskakel, sal eersdaags na die eerste beplanningsvergadering genooi word by die munisipale hoofgebou, Marshstraat 101. Deelnemende organisasies reël elk hul eie optredes, uitstallings, werkswinkels, klasse, demonstrasies, verkope, bemarking ensovoorts tydens die Mosselbaai Kunstefees.
Vir meer inligting kontak die kantoor van die Direkteur: Gemeenskapsdienste by (044 606 5007), of Cornelle Carstens (Senior Bemarking en Kommunikasiebeampte) by 044 606 5137, e-pos: ccarstens@mosselbay.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'