MOSSELBAAI VERMAAKNUUS - 'n Lekker kuieraand saam met Valiant Swart word deur ArtSpace in Mosselbaai aangebied. Dié veteraan storieverteller en troebadoer gaan die gehoor vermaak met avonture uit sy drie dekades op die pad.
Hy sal ook sy immergewilde Songvanger, Donker Pad, Eyeshadow, Jakaranda Strate en ander, sing.
Valiant het al 17 albums vrygestel, drie boeke gepubliseer, verskeie populêre reisprogramme op televisie aangebied, is 'n bekende rubriekskrywer en was hoofakteur (en skrywer van die gewilde temalied) in Song vir Katryn. Sy musiek is volksbesit en hy het al dwarsoor Suid-Afrika opgetree sowel as Europa, die VK en die VSA. Hy het baie amusante staaltjies om te vertel.
Die vertoning vind in die Dias Museum op Vrydag, 20 September om 19:30 plaas. Deure open om 18:30 en voorafbespreking word sterk aanbeveel. Kaartjies, teen R100 per persoon, is beskikbaar by Espresso Spot (by die Dias Museum) op weeksdae tussen 09:00 en 15:00. Verdere inligting is by Abé Meintjes beskikbaar (083 268 3718).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'