VERMAAKSNUUS - Net soos Suid-Afrika se demokrasie, is die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vanjaar 'n kwarteeu oud. Die program van die fees is Maandagaand tydens 'n funksie by Olivanti Country Manor buite Oudtshoorn bekendgestel.
Met die tema, Kultuurdiere, beloof die fees 'n interessante program wat van 21 tot 27 Maart strek. Tydens die bekendstelling het Nic Barrow, die sakeman en prokureur wat aan die KKNK geboorte geskenk het, die grootste rolspelers wat die fees moontlik gemaak het, bedank. Barrow het in 1992 die Grahamstadfees bygewoon en besef dat daar nie 'n fees vir Afrikaans bestaan nie.
"Ek het besluit wat Grahamstad vir Engels beteken kan Oudtshoorn vir Afrikaans beteken en toe begin ek mense soek wat die droom deel."
Slegs drie jaar later is die eerste KKNK in 1995 danksy 'n aantal sleutelborge, aangebied.
Die dramaturg en teaterkundige, Pieter Fourie, was die eerste feesdirekteur en hy het ook die programbekendstelling bygewoon. Tydens 'n gesprek met Hugo Theart, die waarnemende uitvoerende hoof van Kunste onbeperk, het Fourie gesê die eerste KKNK was 'n reusesukses vir Afrikaans, maar 'n "yslike finansiële flop".
"Op daardie stadium het ek nie gedink die fees sal na 25 jaar steeds die land se grootste Afrikaanse fees wees nie - ek het gehoop ja, maar nie geweet ons gaan vanaand na 25 jaar hier sit nie."
Hy het gesê die KKNK is nie 'n fees vir 'n ras nie, maar 'n fees vir 'n taal; nie 'n fees vir afrikaners nie, maar 'n "fees vir Afrikaans".
Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk (links) in gesprek met die dramaturg, Pieter Fourie, wat die eerste feesdirekteur van die KKNK was.Volgens Theart het die bestuur ag geslaan op verskeie insette wat inwoners verlede jaar tydens 'n gespreksessie genoem het. "Dit is vir ons belangrik dat die dorp se mense insette lewer, want die fees se sukses berus op die mense van Oudtshoorn se betrokkenheid en ondersteuning."
Hy het verskeie hoogtepunte van vanjaar se fees toegelig en spesiaal melding gemaak van Amanda Strydom wat met haar opvoering, Miss Mandy, die enigste kunstenaar is wat by elke KKNK sedert 1995 opgetree het.
Die vlagskipproduksie is die eietydse drama Koningin Lear wat op Shakespeare se King Lear geskoei is. Dit geskryf deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye en deur Antjie Krog vertaal. Dit speel in die hede af en lewer skerp kommentaar op die besigheidswêreld waarin integriteit en lojaliteit skaars kommoditeite geword het.
Kuierbuurt aanbiedinge
In die Kuierbuurt word daar oudergewoonte op groot skaal musiek gemaak en aandkonserte bied iets vir almal. Musikante gedurende die ses konserte sluit Karen Zoid, Jo Black, Refentse, Robbie Wessels, Corlea Botha, Craig Lucas, Early B, Bobby van Jaarsveld, Leah, Demi-Lee, Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en die Soweto String Quartet in.
Goeie nuus vir diegene wat vroeg wakkerskrik is spesiale pakkette wat vir ’n beperkte tyd aangebied word om weekkaartjies vir die Kuierbuurt teen afslagpryse te kry. Tot 31 Januarie kan die algemene publiek ’n weekkaartjie teen R225 koop, inwoners van Oudtshoorn kan hul weekkaartjies tot 15 Februarie teen R200 bekom, terwyl mense van 70 en ouer tot 20 Maart R225 vir hul kaartjies sal betaal.
Nog ‘n opwindende nuwe ontwikkeling is XXV. Dit is die groep vir almal wat in 1994, soos ons demokrasie, gebore is. Daar is opwindende spesiale aanbiedinge en pryse te wen, en sluit in gratis Kuierbuurt-weekkaartjies en gratis toegang tot Laataand in die Netwerk24-Feeskafee. Aanlyn-registrasie kan vanaf 17 Januarie by www.kknk.co.za gedoen word.
Program nou reeds beskikbaar
Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za.
Kaartjies kan van 18 Januarie by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word.
Besprekings kan ook aanlyn by www.computicket.com gemaak word of deur 0861 915 8000 te skakel. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'