MOSSELBAAI NUUS - Vandeesweek sal kosliefhebbers wat kaartjies bekom het vir Mosskos se Kerfees in Julie-geleentheid, aansit vir 'n viergang-maaltyd sonder weerga, aldus die klompie spyseniers wat hierdie fondsinsameling môre, 29 Julie aanbied.
Meer as om net 'n uitmuntende spyskaart te bedien, dien die geleentheid ook as 'n bekendstelling van die pragtige venue, Trinity Gate, wat hulle perseel beskikbaar stel ten bate van hierdie fondsinsamelingsgeleentheid vir die ACVV se Ons Huis-versorgingsentrum. Die versorgingsentrum se kombuis- en kookgeriewe is onvoldoende en daarom wil die Mosskos-groep hul kennis en entoesiasme gebruik om 'n verskil te maak.
Bo en behalwe "smaakvermaak", bied Mossel Bay Advertiser-joernalis, Cornelle Carstens 'n splinternuwe kabaretvertoning, Die Avonture van Koek 007 aan. Musikant Marcus Pratz bied ook vermaak met sy keurige tussenspel tydens die ete.
Hierdie is die ideale geleentheid om kliënte, personeel of vriende te bederf en dit sal dalk net die regte motivering skep om die laaste gedeelte van 2017 met mening aan te pak.
Die koste per persoon is R300 en sluit 'n viergangmaaltyd en ook die kabaretvertoning in. Tafels van 10 is beskikbaar, ideaal vir groepe.
Slegs enkele kaartjies is nog beskikbaar by Rene (072 875 1527 of stuur e-pos na Ruys58@gmail.com).
"Kom ondersteun hierdie verdienstelike saak en bederf personeel, kliënte of vriende met smulkos en goeie geselskap!"
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'