Die Boerekermis, nou in sy tweede jaar, is op Saterdag, 26 Mei aangebied op Kenani se perseel in Schoemanstraat. Etlike tente is opgeslaan en daar was omtrent 'n verskeidenheid lekkernye te koop. Die koue luggie ten spyt, het kermisgangers oral gesellig rondgesit en kuier met die heerlikste eetgoed waarvoor Kenani mos in elk geval so bekend is.
Freddie Rheeder (kitaar), Alan Greene (klawerbord) en Johan Alberts (konsertina) het gesorg vir tradisionele boeremusiek, wat sommige voete so laat jeuk het dat Lettie Janse van Rensburg en die 90-jarige Stella Dredge sommer 'n hupse paar danspassies kon uitvoer. Volgens dié twee vroue, verdryf 'n lekker dansie nie net die koue nie, maar ook sommer al die bekommernisse.
Die Amerikaanse mini-perdjies van Dries en Liz du Preez, Chillie en Isabel, was 'n treffer onder groot en klein. Jukskei is ook vanjaar weer aangebied en die jong klomp het hierdie ouderwetse spel terdee geniet.
"Dit was weereens 'n baie suksesvolle basaar en ons as bestuur sê baie dankie vir die goeie ondersteuning vanuit die gemeenskap," sê Kathy Coetsee, bestuurder van Kenani.
"Ons besef ook dat elke kermis maar sy groeipyne sal hê en dit is nodig vir sukses in die toekoms. Alle terugvoering, goed en sleg, word gebruik om net volgende jaar 'n kermis te hou wat niemand gou sal vergeet nie."
Kenani se volgende Boerekermis word gehou op Saterdag, 3 Mei 2013.

Boeremusiek op sy beste met Johan Alberts (links), Freddie Rheeder (middel) en Alan Greene (regs).

Dié ma-en-dogterspan Maggie (links) en Sikelwa August van Asla Park is twee bobaas roosterkoek-bakkers en het gesorg dat kermisgangers behoorlik smul.