MOSSELBAAI NUUS - Dat daar groot musiek-, sang- en danstalent onder die jongmense van Mosselbaai is, is nou maar wors. Met die aanvang van 2020, het 'n groep jonges, waaronder wenners, deelnemers en beoordelaars van die jaarlikse Mossel Bay's Got Talent-soektog, besluit om hulle kreatiewe kragte saam te span en Canibeat te vorm.
Volgens lede van die groep wie se breinkind Canibeat is, Adrian London, Nashwine Murray, Keano Steyn en Mordegai Erasmus, strewe hulle om meer optreegeleenthede te bied vir talentvolle jonges wat onder andere aan MBGT deelgeneem en die kompetisie gewen het en vorige jare.
Hierdeur, enersyds glo hulle dat hulle ook geleentheid skep vir jongmense om hulle talent te ontwikkel en meer selfvertroue te kry sodat hulle ook buite Mosselbaai bekendheid kan verwerf.
Andersyds, glo hulle dat hierdie inisiatief ook as 'n uitreikaksie binne gemeenskappe kan dien om die jeug konstruktief besig te hou deur middel van gesonde vermaak.
Die groep beplan hulle eerste konsert op 26 Maart en is reeds druk aan die werk aan 'n program en bemarking. Hulle is ook aktief besig om borgskappe te soek en nooi enigiemand wat hulle projek dalk wil ondersteun, om met hulle kontak te maak.
Die groep het ook 'n behoefte geïdentifiseer vir die vestiging van 'n gemeenskapskoor. "Enige persoon wat graag by ons koor wil aansluit, kontak ons. Ons wil graag van jou hoor."
Kontak Adrian London (078 245 8681).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'