Strijdom het die gaste in vervoering gehad met die aanbieding van 'n groot verskeidenheid van sy kunswerke wat hy al dwarsoor die wêreld gemaak het. Die uitstaande kenmerk van sy kuns is dat hy hoofsaaklik met die natuur werk, en met dit wat daar vir hom beskikbaar is.
Lesers kan gerus na sy webtuiste by www.strijdom.co.za kyk om te sien hoe hierdie talentvolle kuns-tenaar mense met sy werk bekoor.
As deel van die Groot Muse feesvieringe het 'n groep van ongeveer 60 belangstellendes die volgende oggend by Suiderkruisstrand bymekaargekom. Daar het Strijdom aan elke klein groepie 'n grafiese skets gegee wat hulle met die seesand moes bou. Dit het tot groot pret gelei en die kreatiwiteit en entoesiasme van die 'kunstenaars' was verstommend. Die algemene mening was dat hierdie geleentheid 'n permanente instelling op die Musefees se kalender moet word.
Erfenisdag het saam met die Musefees geval en daar was groot vrolikheid by Groot-Brakrivier Sekondêre Skool se Amfiteater waar die
Erfenisdagvieringe plaasgevind het. Die vol program het 'n groot verskeidenheid items ingesluit en die plaaslike jong talent was baie goed verteenwoordig.
Ronell van Aswegen (sopraan) en die Sotto Voce sangensemble, onder leiding van Johan Engelbrecht het berymde Boerneefgedigte ge-sing. Petronel Baard was die regisseur by die geleentheid en het ook die toehoorders met haar pragstem en bekende sangstukke vermaak.
Die Great Brak has Talent-item was baie gewild en die plaaslike kunstenaars het die gehoor behoorlik onthaal met sang, dans, kletsrym, blaasorkes en 'belly'-danse.
Die Gourikwa-Huis gemengde koor het trane in 'n mens se oë gebring met hulle pragtige sang en die blaasorkeste van die Congregational Kerk en die Aldachique Music Academy het gewys waartoe die plaaslike jeug in staat is.
Die Erfenisdag en Groot Muse feesvieringe het mooi saamgeval en is baie goed deur die publiek ondersteun; dit kan net daartoe lei dat volgende jaar se byeenkomste nóg groter kan wees.

Kletsrymers, oftewel 'rappers', het die gehoor met hul ritme en rymelary laat regop sit. Foto's: Anton Gericke
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Tuinroete nusu'