MOSSELBAAI NUUS - Die immergewilde komedie, Hans steek die Rubicon oor, kom Mosselbaai toe!
Rudie van Rensburg, bekende skrywer van die Kassie Kasselman-spanningsverhale, is die skepper van die storie wat verder bekendheid verwerf het toe dit deur Tobie Cronjé op RSG voorgelees is.
Die storie gaan oor die 90-jarige Hans van Kraaienburg, wat teen sy sin in 'n aftreeoord moet gaan bly.
Sy kinders, wat in die buiteland is, voel dat dit beter is dat hy nie meer alleen kan wees nie.
So beland hy in Huis Madeliefie.
Hans is egter hardkoppig oor die inperkings in die ouetehuis en hy lei 'n opstand teen die drakoniese matrone, 'n afgetrede tronkbewaarder.
Dis daggakoekies, ontkleedansers en allerhande gebeure in dié hoogs komiese roman oor oud-word. Die boek is verwerk as 'n eenmanvertoning met Charlie Bougenon in die rol van Hans, en hy vertolk 15 verskillende rolle op 'n meesterlike wyse.
Die opvoering is reeds met groot sukses by kunstefeeste aangebied en trek vol sale. Die opvoering word aangebied deur die Mosselbaai Kunste-vereniging en is deel van die Mosselbaai Kunstefees in Augustus.
Dit vind plaas in die Stadsaal op Donderdag, 24 Augustus. Daar is 'n middagvertoning om 15:00, asook 'n aandvertoning om 19:00.
Daar is bespreekte sitplekke vir beide vertonings.
Voorafbesprekings is noodsaaklik. Skakel of W/A 064 963 9962, of bespreek by Frame of Mind (044 695 2805), Ocean View Mall, hoek van Bland- en Crookstrate, Mosselbaai.
Vroeë besprekings tot 16 Augustus kos R130 per persoon en R100 vir skoolgaande kinders. Vanaf 17 Augustus kos kaartjies R150 en R100 vir skoolgaande kinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’