MOSSELBAAI NUUS - Op Saterdag 26 Mei om 19:00 kry Mosselbaaiers weer die geleentheid om die Carpe Musicam!-koor en -orkes van George te ervaar.
Ná hul uiters suksesvolle Celtic Moon-konsert, wat die gehoor op hul voete gehad het, bring die 70-stuks Carpe Musicam!-koor en -orkes hierdie keer hul immergewilde, jaarlikse HALLELUJAH!-konsert na die Dias Museum. HALLELUJAH! is 'n musikale vertelling van die gebeure vanaf Paasfees tot en met Pinkster.
Die 2018-program het 'n hele nuwe baadjie gekry en sal onder andere bestaan uit welbekende items soos Mozart se Ave Verum Corpus, The Holy City en Händel se Halleluja-koor, asook die Hallelujah uit Beethoven se oratorium, Christus op die Olyfberg. MASSive is maar een van die opwindende en aangrypende items van die eietydse komponis, Paul Barker, wat in die program ingesluit is.
Kaartjies teen R100 elk sal by die deur te koop wees. Ouers word aangemoedig om hul skoolgaande kinders saam te bring – gratis Verversings sal vanaf 18:00 en tydens pouse te koop aangebied word.
Neem asseblief kennis dat alle Carpe Musicam!-konserte se wins ten bate van die Carpe Musicam!-musiekopleidingsprogram aangewend word.
Deur die konsert by te woon kan u dus 'n verskil in iemand se lewe maak, deur te help betaal vir sy/haar musieklesse of musiekinstrument!
Vir meer inlingting en besprekings, kontak Elsabe (073 857 2952).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'