MOSSELBAAI NUUS - As jy nog nie jou naweekplanne agtermekaar het nie, is daar goeie nuus vir alle buitelugliefhebbers.
Die Garden Route 4x4 Expo and Outdoor Show met die ewe gewilde Home Expo skop vandag, 29 April af en bied weer 'n naweek propvol vermaak in die heilsame plaasatmosfeer van Bartelsfontein.
Die feesterrein is op die Herbertsdale-pad, agter PetroSA. Dit loop op Maandag, 2 Mei ten einde.
Die geleentheid is verlede jaar te midde gure weer in November aangebied, maar 'n meningsopname onder die uitstallers het aangedui dat April 'n meer geskikte datum sou wees.
Weer by die naweek se skou, word die geslaagde Home Expo ook aangebied waar diegene wat in tuisteverbetering belangstel, meer as genoeg te siene sal hê.
Op die viertrekbaan kan gesoute bestuurders hulle slag kom wys, terwyl kundiges dalk die jonger, meer onervare waagmoediges kan touwys maak.
Tipies aan 'n buitelugskou, is daar talle stalletjies waar produkte gerig op die buitelewe te siene sal wees. Puik kosstalletjies is beskikbaar en 'n reusespeelpark met 'n sandput vir die jongspan. Kinderoppassers is beskikbaar, sodat ma en pa na hartelus kan rondloop en dalk selfs 'n drankie in die biertent kan geniet.
Die geleentheid is troeteldiervriendelik, onthou net jou hond se leiband.
Bo en behalwe uitstekende vermaak op die feesverhoog wat optredes deur Fatman, die boeremusiek-sensasie, Die Ventertjies, Jakkie Louw, Early B en Justin Vega insluit, saai SFm regstreeks vanaf Bartelsfontein uit.
Daar is talle pryse te wen in kompetisies soos die Vellies- en Hoedkompetisie, gelukstrekkings en dies meer. Plus, as jy enige van die vorige pret by 'n colour run gemis het, meld dan by Bartelsfontein aan op Maandag, 2 Mei en kom deel in die lekkerte om 09:00.
Bang dat jy enige van die programhoogtepunte mis? Bespreek gerus jou plek om op die terrein te kan kampeer en maak die meeste van jou langnaweek sonder om honderde kilometers ver te reis.
Vir meer besonderhede oor die program en enige besprekings besoek www.gardenrouteexpo.co.za, of skakel Kallie (082 335 8231) en Petra (082 497 7856).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'